ADVENT ‘24, Donderdag, 19 Des.
WEEK 3 – VREUGDE
In “Mere Christianity” skryf C.S. Lewis: “As ek in myself ‘n begeerte vind wat geen ervaring in hierdie wêreld kan bevredig nie, is die mees waarskynlike verklaring dat ek vir ‘n ander wêreld gemaak is.”
Ons leef in ‘n kultuur waar ons dink dat al ons begeertes met “iets” bevredig kan word. Ons koppel ons vreugdes aan dit wat ons het; en wanneer ons “dit” nie het nie, beleef ons ‘n afwesigheid van vreugde. Die begeertes in ons sal nooit tot bedaring kom nie; daar sal altyd ‘n gevoel van onvervuldheid wees; of soos Augustinus dit genoem het: ‘n rusteloosheid. So het hy dit beskryf: “U het ons vir Uself gemaak, o Here, en ons harte is rusteloos totdat hulle in U rus gevind het.”
Advent is ’n seisoen van wag, van verwagting en voorbereiding vir die koms van die Verlosser. Die doel van Advent is om ons juis bewus te maak van ons rusteloosheid. Ons moet die hunkering leer ken wat net deur Christus se koms vervul sal kan word. Maar, die ironie is dat hierdie hunkering nie ‘n hartseer leegheid is nie; dit is ‘n vreugdevolle hoop. Soos Randy Alcorn, skrywer en teoloog, dit stel: “Die eerste koms van Christus maak dit vir ons moontlik om ‘n vreugde te leer ken wat ons andersins nie sou ken nie. Maar steeds bly hierdie vreugde net ‘n voorsmaak van wat werklik op ons wag.”
Die Psalmdigter het Augustinus se rusteloosheid verstaan. So skryf hy in Psalm 84:4: “My hele wese verlang, ja, smag na die voorhowe van die Here; my hart en liggaam roep uit na die lewende.” Petrus sê weer dat ons “soos pasgebore kindertjies (moet wees, wat) smag na melk.” (1 Pet 2:2).
Dit konfronteer my vandag om myself diep te ondersoek na wat al die smagtinge in my lewe mag wees!
Gebed: Verskerp U my hunkering; en stil U dit ook.
MUSIEK:
Ons kyk na die musiek video van “O Holy Night” deur Malakai Bayoh en Aled Jones. https://youtu.be/4EH2nfdChGg?si=T0TKkl2FiBNvf4ZZ
Malakai Bayoh is ‘n talentvolle Britse sanger wat bekend is vir sy indrukwekkende operavoordragte. Op 13-jarige ouderdom het hy in 2023 sy debuutalbum, Golden, vrygestel onder Universal Music. Sy engelstem en unieke talent het hom vinnig wêreldwyd gewild gemaak!