ADVENT ‘24, VRYDAG-SATERDAG, 13-14 Des.

WEEK 2 – VREDE


Ek onthou ‘n kinderkransliedjie baie goed: “As Hy weer kom, as Hy weer kom, kom haal Hy sy pêrels. Al sy pêrels, fraaie pêrels, vir Jesus se kroon.” Waarom ek nou daaraan dink terwyl ek skryf, weet ek nie. Waarskynlik is dit die teologie van “opgaan hemel toe” wat agter die liedjie lê; terwyl die Bybel ons eintlik iets anders leer: die hemel kom na ons toe. Dit is die grootste troosboodskap van die ganse Bybel. Hierdie lewe, soos ons dit met al sy pyn en ellende ken, het werklik nie die laaste seggenskap nie.

In my eie stiltetyd lees ek op die oomblik die briewe van Petrus, en 2 Petrus 3:12-14 fassineer my. Herhalend gebruik Petrus die woordjie “verwagting”. Luister net: “Leef in verwagting dat die dag van God kom en beywer julle daarvoor… Maar ons leef in die verwagting van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers. Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, moet julle julle daarvoor beywer.”

Vir Petrus is verwagtinge allermins passief. Drie keer gebruik hy die woordjie verwagting, maar twee keer herhaal hy ook: “beywer julle daarvoor”. Dis asof Petrus sê jou aandeel speel ‘n rol. Sou Petrus daarmee bedoel dat ons gelowiges se passie waarmee ons ons roeping as getuies uitleef ‘n aandeel het om die koms van Jesus aan te help? So skryf Petrus: “Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer … beskou die geduld wat ons Here met ons het as geleentheid om gered te word” (v9, 15).
“Beywer julle” beteken om al jou energie in te sit met die oog op ‘n spesifieke uitkoms. Is jy deel van die ywer?

Gebed: Dankie dat U geduldig is, maar maak my dan ywerig.

MUSIEK:
Ons kyk na die musiek video van “Peace” deur We The Kingdom.
https://youtu.be/DoL2W9MuA9k?si=J-6lo8lzVtRa6xWL