WEEK 2 – VREDE
Vredesverdrae mag na ‘n oorlog onderteken word; tog leer die geskiedenis ons, hierdie vrede is van korte duur.
Daar is wel een plek waar daar – nou reeds – werklike versoening seëvier: die huisgesin van God. Hier, onder hierdie gesinslede, sien jy hoe versoening kan lyk. Wanneer jy deel word van hierdie gesin (deur die doop), leer jy om werklike vrede uit te leef. Moenie dink daar is nie onderlinge verskille nie; maar daarom sit ons Sondag weer saam aan een tafel en breek saam die brood en drink saam uit die nagmaalsbeker. Hier kan die een die ander nie afskryf nie, want hier leef mense soos een liggaam – en hoe skeur ‘n mens nou ‘n arm van jou eie lyf af?
Gaan lees vir ‘n slag Ef 2:14-19 dan sien jy, in hierdie gesin is dit nie ‘n geval van “jy in jou klein hoekie en ek in myn” nie. Om mekaar bloot te verduur (“toleransie”) is iets anders as om met mekaar in versoening te leef. En dit is waaroor shalom gaan! Oor en oor skryf Paulus: Christus is die versoening (vrede). Christus het die versoening (vrede) bewerk. Christus het die goeie boodskap van versoening (vrede) gebring. Waar eens vyandskap was (“Jode en nie-Jode”), is daar nie nou net ‘n wapenstilstand nie, daar is eenheid. Self kon hulle (en ons) dit nie regkry nie. Maar, Christus kan. En Hy het. En so eindig Paulus dan: “Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God” (v19).
Dit is die een plek waar ek en jy werklik saamwerk om vrede te laat seëvier. Daar waar daar onmin is, gaan wees jy die vredemaker. So werk God se gesin.
GEBED: Mag die vrede wat net U kan gee, heers oor U liggaam, die Kerk.
MUSIEK:
Ons kyk na die musiek video van “Prince of Peace ” deur Josh Baldwin.
https://youtu.be/JfUSiAKnz0E?si=v-S9cO1NuaLBH70L