WEEK 3 – VREUGDE
As jy al ooit gewonder het hoe dit sal wees om eendag in die teenwoordigheid van God te leef (wat ons “hemel” noem), weet jy minstens (uit Op 21:4) dat daar geen hartseer of droefheid of trane sal wees nie. Iemand het eenmaal gesê, die atmosfeer van God is vreugde. Daarom kon Nehemia die mismoedige volk aanmoedig om hul toevlug te neem tot die “vreugde van die Here” (aldus Neh 8:11, 2020-vert).
Waar God is, is volkome blydskap. Dit is hemel! Dit is nie ‘n emosie nie; dit is ‘n toestand. Dit is nie iets wat kan kom en gaan, afhangende van my omstandighede nie. Dit is ‘n blywende gawe van die Heilige Gees. En hoe meer die Gees beheer neem, hoe meer neem die vreugde toe.
Mense mag dalk dink dat die toppunt van vreugde die sorgelose lewe van oorvloed is, maar die digter van Psalm 4 skryf: “U het my reeds groter vreugde laat belewe as wat daar is by mense wat koring en wyn in oorvloed het” (v8). “Hemel op aarde” is moontlik, maar dit lyk gans anders as wat ons dalk dink!
Paulus skryf: “Die koninkryk van God” (m.a.w. hemel-op-aarde; daar waar God regeer) “is nie ‘n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee” (aldus Rom 14:17).
Dit is dalk goed om herinner te word dat vreugde hand-aan-hand loop met gehoorsaamheid aan God. En ons weet dat Jesus gehoorsaamheid aan God bloot gelyk stel aan ‘n lewe van liefde: om God lief te hê en daarom ons medemens ook lief te hê.
As jy liefhet – so beloof Jesus self – kan jou “blydskap volkome wees” (aldus Joh 14:11). Dit is die geheim tot vreugde.
Gebed: Mag my wil en my dade in liefde vermeerder, Heilige Gees, want my begeerte is na U vreugde.
MUSIEK:
Ons kyk na die musiek video van “Somerkersfees” deur Koos du Plessis en Cape Town Youth Choir.
https://youtu.be/-WIlr9OmMao?si=rwE5yohX_GrY_INq
Uit die Liriek:
Welkom o stille nag van vrede,
Onder die suiderkruis,
Wyl stemme uit die ou verlede
Oor sterre velde ruis
Kerfees kom, Kersfees kom –
Gee aan God die eer.
Skenk ons ‘n helder Somerkersfees
In hierdie land, o Heer.