WEEK 4
“Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!” (Rom 15:13).
- Steek die Kerse van Hoop, Vrede en Vreugde aan. Neem tyd om eers rustig by elkeen van hierdie kerse te bid, met die verwagting: “Kom, Maranatha, kom!”
- Steek daarna die laaste kers – Die Kers van Liefde – biddend aan:
God Drie-Enig:
Skepper vanuit liefde, Verlosser deur liefde, en Gewer van liefde –
Uit U liefde, deur U liefde en tot U liefde bestaan ons.
Ons besit geen groter geskenk as U barmhartigheid, genade en liefde nie.
Beskerm my daarvan om ‘n naprater van liefde te wees, maar maak van my ‘n vrygewige uitdeler van liefde.
Blus die vlam van selfgesentreerde liefde in my;
laat my nie staatmaak op verwaandheid en hoogmoed nie, maar mag my liefde in nederigheid ander tot diens wees.
Mag ek niemand iets meer verskuldig wees as liefde nie; sonder om ooit die prys van liefde te bereken.
Dankie dat liefde toeneem, hoe meer dit uitgedeel word.
MUSIEK:
Stille Nag, heilige Nag – Die grootste koor van Oostenryk sing Stille Nag op die stadsplein in Steyr