ADVENT ‘24, Maandag, 23 Des.

WEEK 4 – LIEFDE


In die Gereformeerde tradisie (vanwaar my eie wortels groei) was die belangrikste feestyd sekerlik Paasfees. (Alhoewel, as kind sou ek beslis Kersfees gekies het.) Van Aswoensdag wat die begin van die 40-dae Lydenstyd (“Lent”) ingelei het, het ek nie geweet nie. Om in Lydenstyd te vas was so vreemd soos om Adventskerse in ‘n kerk aan te steek. (Te ‘Rooms’, het mense gekla.)

Min het ek geweet dat Advent vir Kersfees is wat Lydenstyd vir Paasfees is: ‘n voorbereidingstyd. En dat Advent ook ‘n tyd van vas en skuldbelydenis behoort te wees. (Daarom is beide se liturgiese kleure pers.) Waarom? Want, hoe kan jy met vol hande ontvang? Hoe kan jy met ‘n jubelende hart sing, as jy nie ook die gebrokenheid in jouself ondersoek nie? Hoe kan jy verlangend uitsien as daar nie in jou lewe ‘n honger na verlossing is nie? Immers het “God sy liefde – om as ‘n mens gebore te word – vir ons juis daarin bewys dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was” (Rom 5:8). Die krip en die kruis is onlosmaaklik deel van mekaar.

Min het ek geweet dat dieselfde teks vir die eerste Sondag in Adventstyd gebruik word as op Palmsondag (Matt 21:1-11): Jesus wat die stad Jerusalem ingaan op ‘n donkie. Die woorde wat ons uitroep, is steeds – soos daardie dag in Jerusalem: “Hosanna” (die Hebreeuse vertaling van “Here, verlos ons!”)

Dit is twee dae voor Kersfees. Hierdie Advent is bykans gereed om plek te maak vir die Kersgety: die 10 dae vanaf Kersdag. Maar, gaan ons aanhou sing: “Ag, Here, verlos ons tog! Ag, Here, gee tog voorspoed” (Psalm 118:25). Kom, Here, kom. Hosanna! Hosanna!

GEBED: God van liefde; U het met ‘n krip en ‘n kruis kom bewys hoe lief U ons het. Laat U koninkryk kom, hier op aarde, soos in die hemel. Hosanna.
Ons kyk na die musiek video van “O Come, O Come Emmanuel” deur Michael Eldridge.

Michael Eldridge is ‘n toegewyde apteker met ‘n diep passie vir sang. Hy is deur God geseën met die geleentheid om sy liefde vir klassieke a cappella-hymnes, waarmee hy grootgeword het, te deel. Sy doelwitte weerspieël sy geloof en toewyding.
https://youtu.be/51IvLFp-og8?si=SeHSgYiwl9pQv-41