ADVENT ‘24, Dinsdag, 24 Des.

WEEK 4 – LIEFDE


Ons sê altyd, gebede het nie grense nie. Daarom kan ons bid vir mense wat op plekke woon waar ons nooit sal kom nie. Ons kan bid vir mense in lewensomstandighede wat ons self nooit sal beleef nie. Ons hoef nie eers mense se name te ken nie. In ons geestesoog kan ons bloot ons hande oor mekaar vou en saam bid: “dat ons liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat ons die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom” (Fil 1:9-10). Liefde is net soveel ‘n “brein”-ding as wat dit ‘n “hart”-ding is. Daarmee bedoel ek, dat liefde en kennis in geloof hand-aan-hand gaan. Ek het ‘n motto wat ek gereeld vir myself moet herhaal: “Love without truth is sentimentality; and truth without love is brutality.”

Ons bely: God is liefde. Ons hoef dit nie eers te bewys nie, dit is klaar bewys: “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het …” (Joh 3:16). Ons vier hierdie bewys môre. Maar, “Kersfeesliefde” gaan nie oor vonkelende kersliggies en Bing Crosby wat in die agtergrond sing “I’m dreaming of a white Christmas…” nie. Christelike liefde is allesbehalwe ‘n sentimentele liefde: “Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir (mekaar) af te lê” (1 Joh 3:16).

Mag die liefde van Jesus so diep in ons indring dat dit die enigste motivering sal wees vir alles wat ons doen. Mag ons die liefde van Christus ken, “liefde wat ons verstand te bowe gaan”. Mag die volheid van God in jou wees met hoop, vrede, vreugde en liefde.

GEBED: Dankie vir die genade dat ek U liefde ken; mag ek daarin gewortel en gegrondves bly. Mag U liefde in my sigbaar wees om hoop te gee aan hulle wat dit nog nie ken nie.
MUSIEK:
Ons kyk na die musiek video “Christmas Proclamation” ’n Solemn tone.


https://youtu.be/b_BiUkJmi2Q?si=WaeRoDA6qX4Z00SF