WEEK 3 – VREUGDE
Teilhard de Chardin was ‘n fassinerende man: een van die bekendste Jesuïtiese priesters van die 20ste eeu; veral bekend as geoloog en paleontoloog. Sy lewe was nie maklik nie: as jong priester is hy tydens die Eerste Wêreldoorlog opgeroep tot diens in die Franse leër. Sy taak was om die gewondes per draagbaar uit die slagveld te bring. Die vernietigende effek van lyding en geweld was vir die priester bykans te veel. Later jare het hy oor sy twyfel in God geskryf; hoe hy by tye van sy geloof ontneem is. Wat het hom staande gehou? Dat, as hy hom daarop ingestel het, hy steeds tekens van God se teenwoordig oral kon raaksien.
Dit is belangrik dat die tema van vreugde die tema van vrede in Adventstyd opvolg. Nadenke oor vrede is altyd geplant binne ‘n konteks van wantroue en vernietiging. Nadenke oor vreugde is in presies dieselfde konteks geplant! Petrus leer ons dit ook in sy briewe: “Verheug julle … selfs al is dit nodig dat julle ‘n kort tydjie bedroef gemaak word” (1 Pet 1:6). Hoe kan jy dit regkry? Omdat “julle deur die krag van God veilig bewaar … word” (1 Pet 1:5).
Geloof laat ons die lewe volledig en vreesloos omhels. Vreugde laat ons met ‘n ander perspektief na die lewe kyk, selfs al kry jy swaar. Verdriet en vreugde staan nie rugkante teen mekaar nie, inteendeel, dit omhels mekaar. Hoe so? Want beide daardie oomblikke gebeur binne die teenwoordigheid van God. Psalm 16:11 beskryf dit so: “…oorvloedige vreugde in u teenwoordigheid, lieflikhede in u regterhand, vir altyd” (2020-vertaling). Dit laat my juis dink aan ‘n aanhaling van De Chardin: “Vreugde is die onfeilbare teken van die teenwoordigheid van God.”
“Wys my die pad van die lewe”, bid die psalmdigter. Wys my die pad na U toe. Dan loop ek die pad van vreugde.
Gebed: Wys my daardie pad van die lewe, Here. MUSIEK:
Ons kyk na die musiek video van “Joy In The Morning” deur Tauren Wells en Elevation Worship.
https://youtu.be/uysGt7JVw9U?si=atcCyGgJhXKToHp7