Vir ons het ‘n belofte te make met iets wat nog in die toekoms moet realiseer, terwyl ons weet dat baie van die beloftes in die Bybel reeds realiseer het (maar steeds ook op ons van toepassing is). Daarom verkies baie teoloë om eerder van “toeseggings” te praat, of “waarborge” (wat die Heilige Gees immers vir ons is – sien #8).
Hier is nou ‘n goeie voorbeeld van ‘n toesegging: “God is vír ons, wie kan dan teen ons wees?” (Rom 8:31) Elke mens wat hierdie sinnetjie lees, moet eintlik vir ‘n oomblik terugsteier en sê: “hoe kan dit moontlik wees!” In ‘n wêreld barstens toe vol met onstuimige onsekerheid; waar liefde skaars is en venyn en wanhoop volop; waar niks verniet is nie – in só ‘n wêreld is daar een wat aan jou kant is: God.
Om te sê dat God vír ons is, is om te sê dat God ons belange op God se hart dra. God is tot ons goed-gaan verbind. Dit is om te sê dat God alles tot ons voordeel wil laat werk. Dit beteken nie dat die lewe vry van beproewinge sal wees nie, maar dit verseker ons dat die beproewing nie die laaste sê het nie. Alles verander as ons die waarborg ontvang dat God aan ons kant is: ons mag leef sonder vrees; liefhê sonder vrees. Selfs die vreemdeling. Want nie eers die slegste wat jy my kan aandoen het die laaste sê nie. God het. Dit stel ons in staat om ten volle te leef, wetende dat ons waarde nie deur ons mislukkings gedefinieer word nie.
Dit is ‘n rewolusionêre gedagte dat God vir ons is! Soveel mense leef met ‘n ongegronde vrees vir God. En hoe onnodig – God is dan aan jou kant!
GEBED: Ek kan aan geen groter genade dink nie, my HERE, as dat U my belange op die hart dra!
KUNS: The Good Shepherd deur Bernhard Plockhors.
MUSIEK:
On luister na “ The Armed Man: A Mass for Peace” deur die komponis Karl Jenkins opgevoer deur die London Philharmonic Orchestra en die The National Youth Choir of Great Britain.