Oepke Noordmans, ‘n Nederlandse teoloog, is bekend daarvoor dat hy die Evangelie “’n sak vol beloftes” genoem het. Hy het dit ook só gestel: “Die Evangelie het die krag om treurendes te troos, twyfelende mense vastigheid te gee, Thomasse tot geloof te bring.” Dit is juis vir my die mooiste van die Goeie Nuus (wat ons ook “evangelie” noem): ons is nie vasgeketting aan ons verlede nie. Daar is vir ons inderdaad goeie nuus! Dit is soos koerantverkopertjies van vervloë dae wat op die dorpsplein geskreeu het: “Extra! Extra! Read all about it!” Kom nader. Kom hoor.
Baie beloftes in die Bybel word voorafgegaan deur ‘n uitnodiging: Kom! Kom! Soos Jesus in Matt 11:28 sê, “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is….” Ons hoef nie so verstrik te wees in die laste wat ons met ons saamdra nie. Maar, dan moet jy op die uitnodiging reageer. “Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak…”, nooi die Here die volk in ballingskap. “Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu…” (Jes 1:18). Ons sonde en ons oortredinge het nie die laaste sê nie. Maar, dan moet jy kom. Die genade is gratis! Maar, dan moet jy kom. “Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal, wyn en melk” (Jes 55:1). Hierdie uitnodiging het Jesus eeue later herhaal: “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink” (Joh 7:37). Waarom sal jy tevrede wees met druppels as “strome lewende water” jou kan voed? Maar, dan moet jy kom!
Uitnodiging + Belofte. Wie kom, ontvang. Vandag nog.
GEBED: Ek is een van die dorstiges, my Here. Ook ek is een van dié wat swaar dra aan my laste. Vandag reageer ek op U uitnodiging. Dankie dat U my ontvang.
KUNS: “Hy sal jou huis toe Dra”, deur Scott Sumner
MUSIEK:
Ons luister na “Come Thou Fount of Every Blessing” (arr. Wilberg) deur die Mercer Singers as deel van hul Rutter Requiem 2016.