BELOFTES #8

In ‘n belofte is daar nooit ‘n “dalk” nie; daar is wel ‘n “beslis.” En nou is daar nog ‘n belangrike ding wat ons nie altyd so goed verstaan nie: daar is geen “uitstaande” beloftes van God nie.

Die Bybel noem Jesus die vervulling van al God se beloftes. 2 Kor 1:19-21 is ‘n belangrike teks hieroor: “Jesus Christus, die Seun van God, … is die ‘ja’ van God, die ‘ja’ op al die beloftes van God. Daarom is dit ook deur Christus dat ons tot eer van God daarop ‘Amen’ sê.” “Amen” beteken “dit is so”, m.a.w. dit is eintlik ‘n dubbele “ja”. Is God getrou aan God se beloftes? Amen! Amen! Die Amerikaanse teoloog, David Garland, skryf dat, “Die ‘Ja’ in Christus dui op God se onwrikbare toewyding aan Sy beloftes, terwyl die ‘Amen’ ons bevestiging van daardie waarheid aandui.”

Elke belofte van God is met die oog op Jesus gemaak; en elke belofte word in Jesus bewaarheid. Dink aan ‘n wiel met ‘n klomp speke – daardie speke word almal vasgehou aan ‘n as wat die wiel se speke laat draai. God se beloftes is soos die speke van die wiel; Jesus is die as.

Maar jy mag dalk vra, as Jesus die vervulling van al God se beloftes is, wat dan van daardie wat nog vir die toekoms bedoel is? Ook op hulle is daar reeds “beslis” geskryf. Want, hier is nog ‘n belofte: “Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos” (Ef. 1:14). Al God se beloftes is in Christus vervul – ook dié wat wag in die toekoms. God waarborg dit. God gee God self – Sy Gees – vir ons as deposito.
Amen! Amen!

GEBED: Sal ek ooit U goedheid kan verstaan, Here, behalwe om daarop net “Amen” te sê.

MUSIEK:

Ons luister na die pragtige lied “Dat U Lief Is Vir My” deur Hannes Bosman.