My ouers het pas hul 65ste huweliksherdenking gevier. Ek hoor hulle gereeld mekaar op hul troetelname aanspreek: “’Klonkie’ (of ‘Meidjie’), ek is lief vir jou.” Was daar tye wat hulle gewonder het of hulle huwelik nog die moeite werd is? Ek sou so dink! Wat ek weet, is dat hulle – 65 jaar later – steeds oomblikke het wat hulle moet sê, “vergewe my”. Daar is steeds misverstande en kleinserigheid en “ekkigheid”. Tog is hierdie liefde goed geoefen om die belange van die ander een hoër te ag, anders sou dit nooit kon aanhou nie. Is hierdie liefdesverhouding perfek? Helaas – ek wat saam met hulle woon, sal kan antwoord: “nee”. Maar dit hoef ook nie te wees nie; dit moet net altyd oor kan begin! Soos die Kerkvader Benediktus geleer het: “Dan begin ons maar weer.”
Die woorde eggo in my ore: “ Dít het Ek teen julle: julle het My nie meer so lief soos in die begin nie ” (Openb 2:4). Ek wonder of my liefde vir die Drie-in-Een God in hierdie afgelope jaar, sedert die vorige Lydenstyd, met intensiteit toegeneem het. Hoe meet ek dit? Paulus leer dat ons “ niemand iets verskuldig (moet) wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit ” (Rom 14:8).
Alles in ons lewens word gemeet aan een enkele standaard: het ons ons medemens lief? As daar een
smagting sou wees om vernuwing in ons lewens te bring, dan is dit dat die Heilige Gees so beheer oor ons lewens sal neem, dat ons liefde vir ons medemens kan toeneem.
G’n wonder dat die fokus van Lydenstyd op belydenisgebede val nie. Want wat anders kan ek bid as, vergewe my Here. Vergewe my dat my liefde vir my medemens so effentjies is. Dit is nie hoe U dit wil hê nie.
Is daar dalk iemand aan wie jy jou liefde verskuldig is?
GEBED: Ek bely dit Here, ek skiet so tekort wanneer U my aan my liefde vir my medemens meet.
MUSIEK:
Ons luister na ‘n bekende verwerking van die “Kyrie Eleison”, soos opgevoer in die St Johannes Paulus II Katedraal in Krakow. Hierdie weergawe is deel van die sg. “Mass for the World”-komposisie.