10 MAART – RENOVARÉ LYDENSTYD 2025

Elke oggend in Lydenstyd trek ek met ‘n pen ‘n klein kruisie op my duim. Vir ander is dit dalk net 2 strepies; vir my is dit die herinnering dat ek in die teenwoordigheid van God leef. ‘n Reël uit ‘n gebed van die 16de eeuse Kerkvader, Ignatius van Loyola, is my gebed terwyl ek die merkie op my vel laat: “U het alles vir my gegee. Aan U, Here, gee ek dit terug.”

Die eerste-eeuse gelowiges fassineer my – dit was mense wat doelbewus geoefen het om alles wat hulle besit vir die Here terug te gee. Daarom het hulle in die woestyne gaan leef; weg van daardie dinge in ‘n stad wat hulle kon verlei. Die stilte van die woestyn het hulle geleer om God se stem te hoor. Die skrapsheid van die woestynlewe het hulle van God alleen afhanklik gemaak. In die woestyn het hulle geleer om vrygewig met hul gasvryheid te wees, omdat dit vir baie mense die verskil tussen lewe en dood sou beteken. Hulle kon waarlik vir Dawid napraat: “Om u wil te doen, my God, is my een begeerte, u woord is my hele lewe” (Ps 40:9).

Wat beteken ‘n kruisie op my hand as ek nooit genoeg tyd inruim om bewustelik God se stem te leer ken nie? Of watter nut het ‘n goue kruisie om my nek, as my verlange na God nie groter is as enige ander smagting nie? Beteken die groot askruis op my voorkop van verlede week enigiets as ek nie ook die versorger van my medemens is nie? Is die kruis wat teen my portaalmuur pryk dalk bloot ‘n “klinkende metaal, ‘n galmende simbaal” (aldus 1 Kor 13:1) omdat liefde nie tussen die vier mure van my huis seëvier nie?

Môre-oggend gaan ek weer die inkkruisie teken; en oormôre weer. Dit is my genade-kruisie. Leer my om te luister, Here. Om lief te hê. Om net een begeerte te hê: U.

GEBED: “Neem Here en ontvang al wat ek het en my eie noem. Gee my net u liefde en u genade,
dit is vir my genoeg.” (Ignatius van Loyola)

MUSIEK:

Die musiekkeuse vir vandag is ‘n bekende liturgiese gebed van Ignatius van Loyola, “Take and Receive.” Vader Fruto Ramirez, ‘n Katolieke professor, het die verwerking geskryf en dit word uitgevoer deur ‘n Jesuïete musiekgroep: “Himig Heswita and Friends”. Die lirieke verskyn in die video.