#5 VREESLOOS VERNUWEND

Tydens ons blomme-trippie ry ons by ‘n lemoenplaas verby waar trekkers lang treintjies vol vrugte agterna trek. In die boorde werk plukkers onverpoosd.

Pluk die vrug!

Pluk die dag!

Carpe Diem!

Dis makliker gesê as gedaan! Ons lewe is allesbehalwe een asemrowende avontuur. Vir sommige mense word hul dae geslyt in eensame of vervelige, lang ure; en môre herhaal dit weer. Wat is daar dan nou om met albei hande aan te gryp?! Horatius, die Romeinse digter uit die eerste eeu, wat die “Carpe Diem” begrip verewig het, was ook maar pessimisties. Hy het geskryf: “Pluk vandag en vertrou so min moontlik op môre.” Dit klink soos die tydgenote van Paulus wat geleef het met die motto: “laat ons eet en drink, want môre sterf ons” (1 Kor 15:32). 

Ek wonder hoeveel van ons pluk met elke sonsopkoms ons gordyne oop en roep uit, “Carpe Diem”?  Soms is ek te bang om die gordyne oop te maak, onseker oor wat die dag dalk mag inhou. Soms wil ek die gordyne juis toe hou omdat my lewe binnekant donker voel. Soms is dit môre se vrese wat my vandag al lam kan lê.

Soms wonder ek of ons nie dalk eerder “Carpe Deum” moet sê in plaas van “Carpe Diem” nie? Gryp God (Carpe Deum), en dan kan die res volg. Gryp God se hand met beide jou hande voor jy die dag wil gryp. Dit is omdat jy veilig in God se hande is dat jy weet, vandag kan met nuwe energie geleef word. Soos Jesaja 41:10 leer: “Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.” Dan word elke dag soos Psalm 118:24 leer: “Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees.”

GEBED: Carpe Deum: niks kan my uit U hand ruk nie. Daarom, Carpe Diem, Here.

MUSIEK: 

Ons kyk na die musiekvideo van “Carpe Diem” deur die Suid-Afrikaanse komponis Franco Prinsloo vir die Landesjugendchor Südtirol uit Noord-Italië.

Gebaseer op die teks van Quintus Horatius Flaccus, is Carpe Diem ‘n werk wat alle mense, en veral die jeug, tot aksie oproep: gryp elke geleentheid aan wat oor jou pad kom!

Die stuk word met liggaamsperkussie opgevoer en beklemtoon die energieke oproep tot aksie.