#4  VREESLOOS VERNUWEND

Ek probeer meditasies gewoonlik vooruit skryf. Hierdie meditasie (#4) skryf ek op lentedag. Op die hoë Kaapse bergspitse lê sneeulae nog dik. Ongeag wat die temperatuurmeter vandag sê, wéét ek: die lente is hier. Hoe so? Gister het ek in Nieuwoudtville rondgery en blomme in oorvloed gesien. Plate en plate daarvan. ‘n Dag of wat vroeër was die blomme van die Biedouwvallei op die spyskaart. Veelkleurigheid in oormaat.

Søren Kierkegaard, die Deense teoloog, is bekend vir sy gesegde: “Ons onthou agteruit om vorentoe te leef.” En presies dit is wat ek vandag doen: maak ek my oë toe, sien ek die blomme, ruik ek selfs nog boegoebossies. Nooit sal ek kan vergeet nie. ‘n Nuwe seisoen is hier. Al sit ek met wintersklere. Al voel dit nou anders.

Abraham moes dit leer. Die Israeliete moes dit leer. Die dissipels van Jesus moes dit leer. En die kerk deur die eeue – waarvan ek en jy deel is – hou aan om dit te leer. Wat? Kyk terug en jy sal in jou geestesoog sien hoe die getroue God getrou gebly het aan Sy belofte van getrouheid. Op hierdie oomblik voel dit dalk nie so nie. Juis dan het jy nodig om hardop uit te roep: “Onthou! Onthou!” “Israel, onthou altyd dat die Here en net die Here alleen God is.” (Deut 6:4, Die Boodskap). Onthou die hele pad waarlangs die HERE jou God jou vir 40 jaar lank deur die woestyn gelei het” (Deut 8:2, NLV). Uitsigloosheid word verdryf deur onthou!

Soos Kierkegaard gesê het: onthou om te onthou. “Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou” (2 Kron 16:9).  Onthou om te onthou: “Die Beskermer van Israel sluimer nie in nie en Hy slaap nie” (Ps 121:4).

Dit is een van die geheime van vreesloos vorentoe leef.

GEBED: Help my om tog nie te vergeet nie, Heilige Gees.

MUSIEK:   Ons kyk na ’n musiekvideo van  “Blom in Elke Vrou” deur Petronel Baard. Dit is opgeneem op 21Mei 2021 in die strooidakkerkie, Klein-Brakivier saam met Luc Prinsloo en Deon Scheepers.

Orkes, Franco Engelbrecht, Johan Engelbrecht, Lelanè van der Merwe.

Woorde en musiek:  Petronel Baard

“Daar’s ‘n blom in elke vrou, een wat jy onthou, wêreldwyd is daar ‘n blom in elke vrou.

Seisoene kom en gaan, vir elke een ‘n naam, Noord tot Suid is daar ‘n blom in elke vrou”.

#’nBlominElkeVrou!