#3 VREESLOOS VERNUWING

Een van Martin Luther se goeie vriende, die teologieprofessor, Philip Melanchthon,  het die gewoonte gehad om bedags boek te hou van elke verspeelde geleentheid waar hy die evangelie kon verkondig. Saans het hy een vir een die oomblikke voor God bely; pleitend dat God tog nog een dag by sy lewe sal gun. Saam daarmee dat God tog ook van hom dan ‘n betroubare getuie sal maak. (Ons gebruik die woord “mindfulness” – bewustheid – so maklik, maar hier is vir my een van die beste illustrasies van bewustelik leef: om nie net die “goeie” te beleef nie, maar om ook bewustelik om te gaan met daardie oomblikke waar ons dinge anders kon doen en daaroor na te dink. Is dit nie hoe ons leer nie?!)

Melanchthon se motivering het gekom uit Ef 5:15-17: “Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges. Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ‘n goddelose tyd. Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen.”

Hoe wonderlik sou dit nie wees as vernuwing kon impliseer dat ons net binne een oomblik splinternuwe mense met splinternuwe harte en geïnspireerde lewens kon wees nie. Amper soos ‘n Paulus. En tog sal Paulus waarskynlik saamstem dat ons onsself eerder tot vernuwing in-oefen. Dit is God wat ons vernuwe, maar dit is ons wat dan steeds algaande moet leer wat dit impliseer om as nuutgemaaktes te leef.

In teologiese taal praat ons van regverdiging en heiliging. Deur Christus is ons voor God regverdig (onskuldig) verklaar; nou moet ons inoefen om daagliks “soos Christus” (m.a.w. heilig) te leef. Elke dag, meer en meer. Soos Melanchthon.

GEBED: Soos Melanchthon wil ek vra dat U my help om ten volle bewustelik te leef. Ook van my tekortkominge, Here.

KUNS:  Skildery van die begaafde ontslape Oos-Kaapse kunstenaar Deon Lemmer.  Vir meer inligting 0713359346.

MUSIEK: 

Ons kyk na die musiekvideo van Marius Lubbe se lied “Dis Wat Saak Maak”. Die lied is geskryf deur Vaughan Gradiner, en dit gaan oor hoe die kleindingetjies saak maak.