Lig in die Winter.
4 – God se stilte beteken nie afwesigheid nie (6 Jul)
📖 “Niemand sien U nie, o God, maar U is die God van Israel” (Jesaja 45:15 ABA-vert.)
Toe ons jonger was, het ons dikwels verwag dat God se leiding duidelik sou wees: ‘n oop deur, ‘n antwoord op gebed, ‘n gevoel van sekerheid. Maar die jare leer ons dat God dikwels stiller werk as wat ons sou verkies.
Dink aan Josef. Vir jare was daar geen teken dat God besig was om sy lewe te gebruik nie. Daar was net putte, slawerny en gevangenis. Eers later kon hy terugkyk en sien hoe God die drade saamgeweef het. (Gen 50:20).
Ons grootste fout is soms om God se teenwoordigheid te meet aan ons vermoë om Hom raak te sien. Die waarheid is dat God nie minder teenwoordig is wanneer Hy verborge werk nie. God werk. Ongeag wat ons sien.
Soms besef ons eers baie later dat God rééds daar was in gesprekke, toevallighede, teleurstellings en selfs verliese wat ons destyds nie verstaan het nie.
🔌 BYBELSTUDIE
Genesis 50:20 en Lukas 24:13–35
Soos Josef terugkyk oor sy lewe en God se hand sien waar hy dit destyds nie kon sien nie, so het die Emmausgangers ook ontdek dat Christus saam met hulle gestap het sonder dat hulle Hom herken het.
☝🏼Kan jy aan ‘n tyd in jou lewe dink toe jy eers jare later God se teenwoordigheid raakgesien het? Hoe verander dit jou verstaan van God vandag?
🙏🏽 Here, wanneer ek U nie kan sien nie, help my om te onthou dat U steeds teenwoordig is. Leer my om U te vertrou, selfs in die verborgenheid. Amen.
Hierdie dagstukke verg baie ure se lees, nadenke, gebed, skryfwerk en die daaglikse bestuur van die bediening. As jy die waarde daarvan ervaar en die vermoë het om by te dra, sal ek dit met opregte dankbaarheid ontvang. Vir dié wat nie kan bydra nie, bly hierdie bediening met vreugde gratis beskikbaar.
Bankbesonderhede:
STANDARD BANK / TAK: 05100 / REK: 080042805 / RM BEZUIDENHOUT

