Vrae is welkom!

Lig in die Winter.

5 – Vrae is welkom! (7Jul)

⁠📖 “Hoe lank moet ek om hulp roep voordat U hoor, Here, moet ek by U bly kla oor geweld voordat U red?” (Habakuk 1:2)

Baie gelowiges is onder die indruk dat geloof en vrae nie saamhoort nie. Maar die Bybel vertel ‘n ander verhaal.
Abraham vra. Moses vra. Jeremia vra. Habakuk vra. Selfs Jesus vra aan die kruis: “Waarom?”

Die teenoorgestelde van geloof is nie vrae nie. Die teenoorgestelde van geloof is onverskilligheid.
Vrae ontstaan juis omdat iets vir ons saak maak. Omdat ons nie vrede kan maak met die pyn van die wêreld nie. Ons sug. Omdat ons verlang dat God se wil duideliker sigbaar sal word.

Die gevaar is nie om vrae te hê nie. Die gevaar is om te dink dat God net belangstel in dié dele van ons lewe wat seker is.

God nooi ons nie na ‘n lewe sonder vrae nie. Hy nooi ons na ‘n verhouding waarin ons vrae na Hom gebring kan word.

Die een sekerheid wat jy kan hê, is dat jou onsekerhede by God welkom is.

🔌 BYBELSTUDIE
⁠Psalm 73:1–17 en Johannes 20:24–29
⁠Asaf worstel met vrae oor onreg en God se regverdigheid. En midde in Tomas se onsekerheid ontmoet Jesus hom sonder oordeel.

☝🏼Met watter vrae wroeg jy? Sien jy kans om daaroor eerlik te wees – al is dit net by God?

🙏🏽 Here, dankie dat U nie bang is vir my vrae nie. Gee my die moed om eerlik met U te bly worstel. Amen.