Lig in die Winter.
3 –Vashou; ten spyte van (3 Jul)
📖 “Laat my gebed nie tevergeefs wees nie, hoor my geroep. …die hele dag deur roep ek na U, Here, en steek ek my hande in gebed na U uit.” (Psalm 88:3,10 1983).
Daar is gebede wat maklik kom. Dan is daar gebede wat soos swaar emmers uit ‘n diep put opgetrek moet word.
Deurwinterde gelowiges weet dat nie elke gebed met dieselfde ligtheid gebid word nie. Daar is tye wanneer die woorde opraak. Wanneer die bekende frases hol klink.
Psalm 88 is besonder omdat dit nie die donker wegredeneer nie. Die digter probeer nie sy pyn vergeestelik nie. Hy probeer ook nie bewys dat sy geloof sterk is nie. Hy bid eenvoudig verder.
Dít is soms die eerlikste uitdrukking van geloof: nie groot sekerhede nie, maar eenvoudige volharding. Om wéér vandag die hande uit te steek. Om wéér vandag die Naam van God aan te roep.
Miskien is die wonder van gebed nie dat ons altyd die regte woorde vind nie. Die wonder is dat God aanhou luister.
🔌BYBELSTUDIE
Lukas 18:1–8 en Romeine 8:26–27
Jesus vertel ‘n gelykenis oor volhardende gebed. En, ons word herinner dat wanneer ons nie weet wat om te bid nie, die Gees self vir ons intree.
☝🏼 – Wat doen jy gewoonlik wanneer die woorde van gebed in jou binneste opdroog?
🙏🏽 Here, dankie dat U nie wag vir volmaakte gebede nie. Ontvang ook die sugte, en die woorde wat ek nie kan vind nie. Amen.

