GOD IN DIE KANTLYN #4 Links is soms vir God reg(s)

ANKERGEDAGTE: Ons beperkinge is dalk juis wat God nodig het.

Ehud, die man wat die Moabitiese koning vermoor, was slinks en brutaal. Maar kyk bietjie dieper, dan ontdek jy die eintlike storie. Vir twintig jaar word die Israeliete deur die Moabiete oorheers. Die volk pleit by God om hulp. God luister. En so kom Ehud op die toneel. Maar lees mooi: “ Ehud was links ” (Rigters 3:15). Die fokus is nie die gewelddadigheid nie; die fokus is dat iemand wat deur ander as abnormaal beskou was, vir God bruikbaar was.

Deur die eeue is die regterhand beskou as die hand van krag, eer en reinheid. Tog gebruik God ’n linkshandige as instrument vir die volk se verlossing. As Ehud nie links was nie, sou hy nie sy dolk op die spesifieke plek kon versteek nie. Maar nou kon hy.

Kyk verby die geweld, en sien raak dat God nie perfekte mense hoef te kies om bruikbaar te wees nie. Ons word deur mense geweeg en te lig bevind; maar nie deur God nie! As God vir Ehud kon gebruik, dan kan God ons ook gebruik.

Gebed: Here, help my om U te vertrou met my onvolmaakthede, wetend dat U krag in my swakheid volbring word.

*************

DEEL B (vir diegene met meer tyd):
Rigters 3:12-30: Hierdie teks is deel van die Rigtertydperk, ‘n siklus van ongehoorsaamheid, verdrukking, en God se barmhartige ingryping wat keer op keer sy volk gered het. Dit beklemtoon God se getrouheid te midde van menslike mislukking.
Kruisverwysings vir verdere studie:
* 2 Korintiërs 12:9-10: Paulus vang die essensie van Ehud se verhaal vas – God se krag manifesteer ten volle wanneer ons ons menslike beperkinge erken en op Hom vertrou.
* Psalm 18:32 bevestig dat God die bron van ons krag en bekwaamheid is, selfs wanneer ons voor onmoontlike situasies te staan kom.

MUSIEK VAN DIE DAG
‘n Virtuele koor in samewerking met PE Hoogland, Doxa Deo Artuo en Impetus Gemeente (o.l.v. Hanlie Young) sing “ Groot Is U Trou ” wat bevestig dat God uit ons swakheid die volmaakte kan bereik.