#28-29 VREESLOOS VERNUWEND

Ek sluit vandag af met hierdie reeks #Vreesloos Vernuwend. Dit was vir my so vanselfsprekend om met hierdie reeks op Lentedag te begin, want dit is nie net die geboorte van ‘n nuwe seisoen wat ons jaarliks inwag nie; dit is veral die verwagting van nuutheid van ons gees waarna ons ook verlang. Vlaag op vlaag kouefronte het ons steeds in hierdie maand getref – selfs op plekke sneeu. Maar, dalk is dit simbolies van ons lewe: vernuwing is ‘n proses. Dit is ‘n nimmereindigende proses.

Wat ek ontdek, is dat vernuwing niks anders is as genade-op-genade nie. Dit is genade dat die saaier – weer eens – met sy saadsak loop en saad oor ons lewens strooi. Dit is genade as die saad op vrugbare grond val. Dit is genade as die saad wortelskiet. Dit is genade as daar vrug uit die saad geoes kan word.   “Ons is die saailand van God”, skryf Paulus, “en God laat groei” (aldus 1 Kor 1:6-9).

Een van die ou woestynvaders uit die eerste eeu, Abba Zosimos van Palestina, het gesê: “Genade is soos ‘n stroom water wat direk van God af vloei en elkeen verfris wat daarvan wil drink.” Hoe groter jou dors, hoe dringender is die uitnodiging. Die mate van vernuwing wat ons verlang, is ook die mate waarin ons dit ontvang. Ontvang ons min, is dit omdat ons min verwag. Immers weet ons dat God “magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink” (Ef 3:20). Nou verstaan ons ook waarom Jesus gesê het, “Vra, en vir julle sal gegee word. Soek, en julle sal kry. Klop, en vir julle sal oopgemaak word. … Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra”( Luk 11:9-13).

Daarom bid ek saam met jou: “Kom, O Skepper, Gees; Lewendmakend Gees. Kom in al U volheid; kom in al U krag. Lei my in U waarheid; leer my van U Seun. Wees ook U my Trooster. Kom, o Skepper, Gees.”

(uit die Liedboek, Lied 439)

MUSIEK:

Ons kyk na die Afrikaanse Christen Kerk (ACK), Christchurch, se liriekvideo van “Kom, O Skepper, Gees”.