Hoe groot moes Dawid se begeerte na vernuwing nie wees nie om te kon bid: “Deurgrond my, o God, deurgrond my hart…” (Ps 139:23). Dit is ‘n gebed dat God jou aan die hand neem om jouself te leer ken soos God jou ken.
Om eerlike introspeksie te doen oor jou lewe gaan geloofsvernuwing altyd vooraf. Die teoloog, Tom (N.T.) Wright skryf oor die noodsaaklikheid van selfondersoek: “Om onsself te ondersoek is nie ‘n luuksheid nie; dit is ‘n noodsaaklikheid vir ‘n lewe van integriteit en getrouheid.” Hoe kan jy groei as jy nie weet waar jy tekort skiet nie?
Daar is baie teksverse wat ons aanmoedig om introspeksie te doen. In Klaagl 3:40 staan daar: “Laat ons ons doen en late deeglik ondersoek en ons tot die Here bekeer.” (Lees ook in Gal 6:4.) In 2 Kor 13:5 lees ons: “Stel julleself op die proef en ondersoek julleself of julle in die geloof lewe.” In die “The Message”-Bybel word dit mooi vertaal: “Test yourselves to make sure you are solid in the faith. Don’t drift along taking everything for granted. Give yourselves regular checkups. You need firsthand evidence, not mere hearsay, that Jesus Christ is in you. Test it out. If you fail the test, do something about it.”
Vandag wil ek vir jou baie praktiese raad gee. Dit kom van ene Ignatius van Lyola (16de eeu). Hy het geglo dat alle gelowiges ‘n intieme verhouding met Christus kan hê, nie net hulle wat in afsondering leef (soos kloosters) nie. Daarvoor moet jy daagliks ‘n tyd afstaan vir die VYFPUNT-PLAN:
1. Begin deur jouself te herinner dat jy in God se teenwoordigheid is.
2. Kyk met waardering na die gebeure van jou dag. Dank God.
3. Kyk eerlik na jou tekortkominge van die dag. Bely dit.
4. Herleef jou dag in jou verbeelding oomblik vir oomblik. Hoe was God by alles betrokke?
5. Oorgee en nuutword. Wat sal jy môre anders wil doen.
Sluit af met die Onse Vader-gebed.
MUSIEK:
AFRIKAANS GROEP:
Ons kyk na die “Die Onse Vader” opgevoer tydens Afrikaanse is Groot deur Amira, Riana, Corlea, Jannie, Dozi, Dewald & Leah.