17 MAART – RENOVARÉ LYDENSTYD 2025

Lank voordat die Griekse filosoof, Sokrates, geleef het, het Koning Dawid geworstel met ‘n ondersoekende lewe. Maar Dawid gaan een tree verder as Sokrates – hy kyk nie net na sy lewe nie; hy gaan staan by God en kyk vanuit God se perspektief na sy lewe. En dít is waarom hy ten einde laas sê, “Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë” (Ps 51:6).

Skuldbelydenis gaan nie daaroor om ‘n lysie te maak van ons foute nie. Skuldbelydenis wil ons by die wortel van sonde uitbring, naamlik die onvermoë om as die beeld van God te leef. Sonde is die resultaat wanneer ons weier om ons ware identiteit te omhels; en deur dit te doen, benadeel ons nie net onsself nie, maar ook ander, en uiteindelik God. Dit is ’n weiering om die heiligheid en wat reg is voor God in die manier waarop ons leef, dink en optree, te weerspieël.

Ware skuldbelydenis gebeur eers wanneer ons nie meer agter verskonings of vermommings wegkruip nie. Dit roep ons op om ons ware toestand voor God uit te lig. Daardie dinge wat ons probeer wegsteek – of dit nou trots, jaloesie, woede of selfs onverwoorde bitterheid is – moet in die lig kom. Want net in die lig van God se waarheid kan ons ware vernuwing ervaar. God se #Renovaré.

Aldus Walter Brueggemann was Dawid se belydenis “die werk van iemand wat sy sonde in die lig van God se oordeel en genade gesien het.” In hierdie belydenis beweeg Dawid van donkerte na lig, van wanhoop na hoop.

Kan jy sien dat skuldbelydenis nie ’n las is nie; dit is die deur wat ‘n lewe na herstel vir ons oopmaak. Dit is, soos Richard Foster opgemerk het, “Die grootste stap na genesing, want deur jou gebrokenheid voor God te erken; nooi jy God se genade ook in.”

GEBED: Here, laat ek sien wat U sien, sodat ek kan word wie U my wil hê.

MUSIEK

Sekerlik die bekendste musiek wat ooit gekomponeer is n.a.v. Psalm 50/51 is ‘n 17de-eeuse werk van ene Gregorio Allegri, “Miserere mei, Deus” (“Wees my genadig, O God”).
Die kunswerke in die video is o.a. dié van Gabriel Metsu, Bartolome Esteban Murillo, Ionnis Moskos, Eugene Siberdt, en Diego Velazquez.