14-16 MAART – RENOVARÉ LYDENSTYD 2025

Die drie “erre” (sien #3 Maart) is vir my ‘n goeie opsomming van Lydenstyd: “reflection”, “repentance”, “renewal.” Presies wat #Renovare ” ook impliseer”: vernuwing deur nadenke en belydenis.

Sokrates, die Griekse filosoof (4de eeu vC), het eenmaal gesê: “’n Lewe wat nie ondersoek word nie, is nie die moeite werd om geleef te word nie.” Dis waar – hoe kan jy voluit leef as jy nie reflekteer oor waarmee jy jouself besig hou nie? Hoe ontwikkel jy begrip oor jou tekortkominge, jou eie optrede, gedagtes en doelwitte sonder besinning? Sonder introspeksie sal ons almal – blindelings – net gister en eergister se patrone herhaal.

Die feit dat ons kan nadink, maak van ons volwaardig méns! Ons kan keuses maak. Ons is nie maar net diere nie. Ons kan reflekteer. Én oor begin.

Paulus voel net so sterk oor die belangrikheid van nadenke, dat hy vir die gemeentelede van Korinte hierdie woorde (ook van toepassing op ons) skryf: “Ondersoek julleself of julle in die geloof is; toets julleself. Ken julle julleself dan nie? Besef julle dan nie dat Jesus Christus in julle is nie?…” (2 Kor 13:5 – 2020-vertaling).

Waarom is self-ondersoek so belangrik? Omdat ons nie mag vergeet hoe ons bedoel is om te leef nie. Christus is in julle! Die krag van God waaruit Christus leef, is dieselfde krag wat ook in Christene aan die werk is (aldus v4). Hoe sien ‘n mens dit? Toets dit aan jou eie geloofstoewyding. Groei jy? Is jy ‘n geestelike volwasse? Twee maal praat Paulus hieroor. Eers bid daarvoor (v9), en dan moedig hy hulle aan om te “streef na die geestelike volwassenheid” (v11).

Ons moet ook daarna streef om te word wat ons bedoel is om te wees: na die volwassenheid wat in ooreenstemming is met Christus se volmaaktheid (lees Ef 4:13).

Die vraag vir elkeen van ons om oor na te dink, is: waarna streef jy in die lewe? Hoe lyk iemand wat geestelik volwasse is? Is jy so iemand? En, meer nog, wat weerhou/hinder jou om die volwassenheid te bereik?

GEBED: Mag my strewe U verheerlik, my Here.

MUSIEK

Daar was dosyne opnames van die bekende gesang – “Be thou my vision” – waarna ek geluister het; van bekende operasangers tot kerkkore; maar my keuse het vir vandag op hierdie eenvoudige opname van Michael Lining geval, wat die lied vierstemmig sing. Die lirieke verskyn in die video.