18 MAART – RENOVARÉ LYDENSTYD 2025

Soms kan gelowiges geloofsake so ingewikkeld maak. Dalk is dit bloot een van die verleidingstaktieke van die verleier (wat ook Jesus in die woestyn teëgekom het). Die grootste verleiding is sekerlik dat ons God nie ernstig op God se woord neem nie. Wanneer Dawid pleit, “Skep vir my ‘n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig” (Psalm 51:12), dan bid Dawid net dit wat God self beloof. “Ek sal julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ‘n hart van vleis gee” (Eseg 37:26). Daar is net een ding waarop ons aanspraak kan maak: dat God God se beloftes sal hou!

Ons val dikwels in die strik om te dink dat bekering ‘n kwessie van wilskrag is; van harder probeer om goed te wees. Maar Lydenstyd nooi ons uit na ‘n dieper waarheid: ons harte is nie self-herstellend nie. Hartsvernuwing vind net deur ‘n goddelike ingrype plaas. Psalm 51 is nie die verklaring van iemand wat met selfverbetering besig is nie. Die hartsverandering wat God skenk, systap mensehande!

Die teoloog, James (J.I.) Packer verduidelik: “Wanneer God ‘n nuwe hart gee, vernuwe Hy jou wil en suiwer Hy jou motiewe. Hierdie innerlike transformasie is die vrug van die genadeverbond, waar God nie net vergifnis bied nie, maar jou siel ook herstel na sy oorspronklike doel: om aan God te behoort.” Dit is die Skepper-God wat hier aan die werk is. Die Skepper-God wat nie moed opgee nie.

Mag Lydenstyd vir beide van ons ‘n tyd bied om na te dink oor die toestand van ons harte. Mag ons nie op ons eie krag vertrou om ons tekortkominge weg te steek nie. Mag ons onsself oorgee aan God se transformerende krag.

GEBED: Skep ook vir my ‘n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig.

MUSIEK

Dwarsdeur die skryf van hierdie dagstuk het hierdie lied in my agterkop gedraai. Ek deel dit graag met jou – dit is een van my gunsteling liedere!
“Create in me” word gesing deur “The Acapella Co.”