Ek is verbaas hoeveel keer Paulus oor dankbaarheid skryf – veral in die Kolossensebrief. Dankbaarheid het ‘n beginpunt – dit begin by Christus: “Aangesien julle dan Christus Jesus as Here aangeneem het, moet julle in verbondenheid met Hom lewe, in Hom gewortel en op Hom gebou, vas in die geloof soos julle geleer is, en met dankbaarheid vervul.” (Kol 2:6-7) “Die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. … Wees altyd dankbaar” (Kol 3:15).
Dankbaarheid is ‘n gesindheid wat ingeoefen moet word; dit is nie omstandighede wat moet verander nie! Dankbaarheid het met die alledaagse te make, nie (net) met die buitengewone nie: “Wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom” (Kol 3:17).
Jy kies om dankbaar te wees, soos jy ook kies om ondankbaar te wees. Henry Nouwen het gesê: “What fascinates me so much is that every time we choose to be grateful, it becomes easier to see new things to be grateful for. Gratitude begets gratitude, just as love begets love.”
Dit is opvallend dat Paulus gebed en dankbaarheid so gereeld in dieselfde asem noem. Soos hy ook in Kol 4:2 skryf: “Volhard in die gebed! Wees daarby waaksaam en dankbaar.” Daar sal dinge wees wat julle van ‘n dankbare lewe wil beroof, vandaar sy waarskuwing: wees waaksaam. Bid en sing. “Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing” (Kol 3:16). Want, soos die kerkvader, Augustinus van Hippo, gesê het, “Om te sing is om twee keer te bid.”
Ons lewens getuig meer van wat ons glo as wat ons woordeboeke vol woorde kan doen. Ek begin al meer ontdek dat Christene se grootste getuienis die mate van dankbaarheid is waarmee hulle leef. Met dankbaarheid leef ons vreesloos-vernuwende lewens.
GEBED: Dankie, my Here, dankie.
MUSIEK:
Ons kyk na die liriekvideo van Nuwe Lof en Louis Brittz se weergawe van “Wye Waters van Sy Liefde”
Dit is aanvanklik geskryf deur William Rees en in Afrikaans vertaal deur Neil Büchner.
Die liriek verskyn op die skerm.