As ons wag tot die lewe presies, eenhonderd persent, reg is alvorens ons met volle oorgawe vreugde kan put uit die lewe, is ek bevrees, ons gaan ‘n volle lewe daarvoor wag. Die eerste ding wat ons moet erken, is dat blydskap ‘n keuse is. Filippense 4:4 stel dit onomwonde: “Wees bly.” En as jy dalk dink jy skeef gehoor het, herhaal Paulus: “Wees bly!” In 1 Tess 5:16 herhaal hy weereens die opdrag: “Wees altyd bly.” En volg dan op: “Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag” (v18).
As ek dus vandag vir jou sou vra, hoe warm brand jou blydskap-termostaat, dan sou ek goedskiks kon vra, met hoeveel dankbaarheid leef jy? Toegegee, daar is baie dinge waaroor ons nie bly kan wees nie (selfs nie eers bly oor moet wees nie – dink byvoorbeeld aan onreg, of rampe, ens.). Maar soos die priester, David Steindl-Rast, tereg gesê het, al kan ons nie in alle omstandighede blydskap ervaar nie, kan ons in elke omstandigheid dankbaarheid ervaar. Dit is dankbaarheid wat die energie verskaf om met blydskap te leef. Of soos Thomas Merton ook gesê het, diegene wat nie met ‘n dankbare hart leef nie, sal weldra oor baie kan kla.
Dit is so maklik om in die strik te trap om blydskap en dankbaarheid te koppel aan gunstige omstandighede, ten spyte daarvan dat die Bybel anders leer. Die profeet Nehemia het ‘n platgeslane volk aangemoedig om weer met blydskap te begin leef, want “die vreugde van die Here, dit is julle toevlug” (Neh 8:10, 2020-vert). Soos Dawid ook gebid het: “Laat almal wat by U skuil, bly wees, laat hulle altyd jubel. U beskerm dié wat u Naam liefhet, en hulle juig oor U” (Ps 5:12).
Is jy vandag ‘n BLYmoedige mens? Vol dankbaarheid? Gevul met vreugde?
GEBED: Is ek eerlik as ek sê dat U alleen die bron van my dankbaarheid en my vreugde is, Here?
KUNS: Ravenswood Guild
MUSIEK:
Ons kyk na die musiekvideo van Joshua na die Reën se lied “Die Groot Gees van Hemel en Aarde” saam met Tuks Camerata. Die liriek is op die YouTube-skakel en ook ’n pragtige brief van hom.