Daar is een vreugde- en dankbaarheidsdief waarteen almal van ons waaksaam moet wees: bekommernis. Bekommernis se maatjies is angstigheid en vrees. Maar, soos Charles Spurgeon herinner het, “Angstigheid kan niks aan vandag se probleme verander nie; behalwe om jou van vandag se potensiaal te beroof.”
Bekommernis is ‘n slinkse dief wat ons van ons lewensenergie beroof. Soos Dawid in Ps 55:3 skryf, “my sorge gee my geen rus nie.” Bekommernis gaan gewis nie jou lewe verleng nie; inteendeel, dit beroof jou van jou gesondheid. (Gaan lees maar Matteus 6:27 hieroor.)
Petrus skryf: “Onderwerp julle in nederigheid aan die kragtige hand van God …Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle” (1 Pet 5:6-7. Lees ook Psalm 55:23). Kom ons wees eerlik: bekommernis is wantroue in God se voorsienigheid! Martin Luther het gereeld oor bekommernis en vertroue gepreek. Een van sy preke se tema was eenvoudig: “Bid, en laat God bekommer.” Soos St Ignatius van Lyola gesê het, “Bid asof alles van God afhang, en sit jou dagtaak voort asof alles van jou afhang.” Dit was ook die motto van die vroegste Christene: “Ora et labora”: bid en werk.
Het jy al gesien hoe ‘n konstante stroompie ‘n rots kan wegkalwe? Op dieselfde wyse kalwe bekommernis ons vertroue in God weg. Daarom gaan Petrus voort: “Wees nugter, wees waaksaam! Julle teenstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na wie hy kan verslind. Hom moet julle teenstaan, standvastig in die geloof …” (v8-9).
Vir Jesus was bekommernis ‘n nuttelose en tydrowende aktiwiteit, daarom sy opdrag: “Beywer julle vir die koninkryk van God en vir die wil van God” (Matt 6:33).
Nee, nêrens word ons Christene van ‘n kommervrye lewe verseker nie. (Die martelare van die Vroeë Kerk sal dit beaam.) Maar, waarom jou bekommer oor dit waaroor jy geen beheer het nie. G’n wonder Julian van Norwich (14de eeu) het gesê,
“All shall be well,
all shall be well,
in all circumstances, all shall be well.”
GEBED: Een vir een gee ek my sorge aan U sorg oor, Here .
MUSIEK:
Ons kyk na die liriekvideo van “All Shall Be Well” deur Shaun Garrison. Die liriek verskyn op die skerm.