Vir my is een van die mooiste Afrikaanse woorde “onbeskroomd”. Onverskrokke. Vreesloos. Soos die opdrag wat Josua van God ontvang het: “Wees dapper en sterk … Moenie paniekbevange wees nie en moet jou nie laat afskrik nie, want die HERE jou God is by jou, oral waar jy gaan” (Josua 1:9 – 2020 vert). Niks keer jou nie. Niks staan in jou pad nie.
Self kom die woord “onbeskroomd” (in Engels: undaunted) nie in die Afrikaanse vertalings voor nie; maar in die Engelse Amplified Bybel staan daar in Joh 16:13: “I have told you these things, so that in Me you may have [perfect] peace. In the world you have tribulation and distress and suffering, but be courageous [be confident, be undaunted, be filled with joy]; I have overcome the world.”
Vreesloos. Nóg meer, gevul met vreugde. Soos Dawid in Psalm 16 skryf: “Ek het die Here altyd by my: omdat Hy by my is, sal ek nie struikel nie. Daarom is ek bly en juig ek en voel ek my veilig” (v8-9). “Hou Hom voor oë … Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie” (Heb 12:3).
Met alles wat ons tot nou toe gesê het, kan ons tot die finale slotsom kom: niks keer ons om liefde-in-oortreffende trap uit te leef nie. Vreeslose liefde. Hoe kan ek dit sê? Is dit nie onmoontlik nie? Nee. Nie as jy onthou dat Jesus die wingerdstok is en ons die lote nie. “Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie” (Joh 15:5).
As jy meer van die vrug van die Heilige Gees in jou lewe in aksie wil sien, leer Jesus al beter ken! Lees dit oor-en-oor. Meer geduld? Leer Jesus ken. Onblusbare vreugde? Leer Jesus ken. Vreeslose liefde. Leer Jesus ken.
GEBED: Ook ek is bly en juig, Here, want ek ken U. Laat U my voorganger in alles wees.
KUNS: Elizabeth McIntosh’s “Curious Trees” (2022)