20 MAART – RENOVARÉ LYDENSTYD 2025

Psalm 6 is een van die sewe sg. Boetedoeningspsalms. Dit is daardie psalms waar die digter gebroke op sy knieë voor God neerbuig en pleit: “Here, moet my in u toorn nie teregwys en my in u woede nie bestraf nie” (Ps 6:1, 2020-vert.).

Het daar ooit iets in jou lewe gebeur waar jy skoon siek was oor die verkeerde ding wat jy gedoen het? Jy kan nie slaap nie, so kwel jou gewete jou. Jy het jou eetlus verloor van teleurstelling in jouself. Dan is jy in goeie geselskap, want Dawid sal weet waarvan jy praat. Hy word oorweldig deur fisiese én emosionele lyding – ‘n direkte gevolg van sy sonde: “Ek kwyn weg … tot in my gebeente is ek beangs, ja, tot in my siel is ek heeltemal vreesbevange. … My oë is dik geswel van verdriet…” (v2 en 9).

Dawid se eerlikheid nooi elkeen van ons uit om ons eie moegheid – die uitputting wat voortspruit uit die dra van die las van sonde – te konfronteer.

In die Nuwe Testament sien ons ‘n parallel in die verhaal van die vrou wat in egbreuk betrap is (Johannes 8:1-11). Sy is so volledig ontbloot; daar is geen verskoning om agter te skuil nie. Tog veroordeel Jesus haar nie. In plaas daarvan bied Hy vergifnis aan. Selfs in ons diepste skaamte is daar goddelike genade beskikbaar. “Gaan heen, en sondig nie meer nie.” Jy is vry!
Ek leer iets in beide Psalm 6 en Johannes 8:1-11: God draai net nooit God se rug op ‘n gebroke mens nie. Selfs in ons donkerste oomblikke luister God na ons roep: “Die Here het my smeking gehoor; die Here aanvaar my gebed” (v1). Soos Johannes Chrysostomos (3de eeuse kerkvader) geskryf het: “Die deur van bekering is altyd oop; die tyd van vergifnis is nooit verby nie; die Regter, vol barmhartigheid, is altyd gereed om te vergewe.”

GEBED: Dankie dat U die slot en grendel van sonde breek met U genade.

MUSIEK

Will Todd is ‘n Britse kerkmusiekkomponis. Ons musiekkeuse vandag vol op een van sy komposisies: “No more sorrows.” Dit is beryming van Openbaring 21:4, “And God shall wipe away all tears from their eyes; and there shall be no more death, neither sorrow, nor crying, neither shall there be any more pain: for the former things are passed away.” Dit word hier uitgevoer deur die veelbekroonde Britse Kamerkoor, “Tenebrae”, wat deur baie as die beste kamerkoor ter wêreld beskou word.