19 MAART – RENOVARÉ LYDENSTYD 2025

Lydenstyd word dikwels beskou as ‘n seisoen van sombere nadenke. Tog gaan die hele reis eintlik oor vernuwing – “Renovaré”. En dit is tog allesbehalwe somber! C.S. Lewis skryf in sy boek, The Problem of Pain: “Joy is the serious business of Heaven.” Soos ons geskep is om met God verenig te leef, so is ons geskep om ‘n lewe met sielsvreugde te leef. Dít is hemels.

Het jy opgemerk dat Dawid twee maal bid, “Laat my weer blydskap en vreugde belewe” (Ps 51:10,14). Sonde het hom nie net van God vervreem nie; dit het hom ook van sy lewensvreugde beroof. Daarom weet ons, vreugde is ’n diep, sielsvrede wat ontkiem wanneer ons met God versoen word.

Dikwels glo ons die leuen dat vreugde deur onsself geskep moet word – so asof ons vreugde sal ervaar wanneer ons omstandighede verbeter. Maar die teoloog, Fleming Rutledge, is reg as hy sê, “Vreugde is nie geluk nie; ware vreugde begin jy eers ervaar as jy ontdek dat jy deur Iemand groter as jyself vasgehou word.” Ware vreugde is ‘n gawe van God. Dit is nie ‘n produk van ons eie pogings nie, maar ‘n vrug van die Gees. Dit is ‘n diepgewortelde versekering van God se liefde en teenwoordigheid, selfs te midde van lyding. Daarom kon Paulus vir die gemeente in Rome, gebukkend onder moeilike omstandighede, skryf: “Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul…” (Rom 15:13).

Ware belydenis lei nie net tot die opheffing van skuld nie, maar ook tot die terugkeer van vreugde – ’n vreugde wat gevind word in die volledige herstel van die teenwoordigheid van God.

Is jy werklik ‘n sielsgelukkige mens? Oorlopens toe vervul met vreugde? Ongeag jou omstandighede? Indien nie, begin dan nadink oor wat die kloof tussen jou en God bewerk het, want daar lê die antwoord op hierdie vraag.

GEBED: Soos Dawid mag ek ook vra, Here, “Laat my weer blydskap en vreugde belewe.”

MUSIEK

‘n Kerklied wat in vele tale vertaal is, is “Wer nur den lieben Gott” van Georg Neumark (1621-1681). J.S. Bach het later ook sy bekende kantate hierop geskoei. In Afrikaans is dit bekend as “Laat my met U verenig lewe” en in Engels, “If Thou But Trust in God to Guide Thee”.
Vandag se musiek word uitgevoer deur ‘n kwintet, “Stimmen der Berge.” Hierdie groep is in 2014 gestig en bestaan uit tenore: Benjamin Grund, Matthias Müller. Die bas is Stefan Hofmeister; die bariton is Daniel Hinterberger.