Oscar Romero, die aartsbiskop van El Salvador, het op 24 Maart 1980 in ‘n sluipmoordaanval gesterf terwyl hy besig was om nagmaal aan sy gemeentelede te bedien. Ek lees nou ‘n boek van hom. Op die eerste bladsy staan daar geskryf: “The violence we preach is not the violence of the sword, the violence of hatred. It is the violence of love, of brotherhood, the violence that wills to beat weapons into sickles for work.” Dit is ook die boek se naam: “The Violence of Love.”
Romero se boodskap was niks anders as die boodskap wat ek en jy daagliks behoort te verkondig en te leef nie. Dit is die boodskap van liefde. Máár, dit is allesbehalwe ‘n soetsappige liefdesboodskap. Dit is die boodskap van liefde tot die dood toe. Vreeslose liefde. Liefde wat jou laat opstaan daar waar onreg is. Liefde wat jou aan die kant van die onderdrukte laat staan. Liefde wat doen wat reg is. Selfs al is dit ten koste van jouself.
Mag ek bieg, ek is so spyt ek het hierdie tema #Vreesloos Vernuwend gemaak. Het ek tog maar die woordjie “vreesloos” uitgelaat. Dan was dit dalk makliker om te skryf. Dan kon ek dalk “mooi” dagstukkies geskryf het oor vernuwing. Lentebloeisel-gedagtes. Maar, die #vreesloos verander alles. Dit is soos om te praat oor “The Violence of Love.” Dit is liefde-tot-die-dood-toe. Soos om mense “niks verskuldig te wees nie, behalwe om hulle lief te hê.” (aldus Rom 13:8). Is daar ‘n groter gawe wat jy enige mens kan gee as om hulle lief te hê – selfs as hulle jou vyandiggesind is?
Die tyd het dalk gekom om oor #vreesloos te begin nadink. Soos Romero gesê het: “Laat ons nooit moeg word om oor liefde te praat nie. Dit is die enigste krag wat die boosheid sal oorwin.”
GEBED: Is ek werklik bereid om só lief te hê soos U vra, my Here?
KUNS: ‘n Muurskildery van die vermoorde aartsbiskop Oscar Romero in Panchimalco, El Salvador.
MUSIEK:
Ons kyk na die liriek-video van “More than Enough” deur Fearless Soul.
https://youtu.be/wXxArQbJ0YY?si=W9QkESaBuAdrZrjQ