#17 VREESLOOS VERNUWEND

Daar is waarskynlik niks so sieldodend soos om ‘n betekenislose lewe te leef nie. Betekenisloosheid trek jou in die lokval in om jou aandag en jou tyd aan nuttelose verdrywe te spandeer, en dan, by nagedagte, nog meer betekenisloos te voel. Die hartseer-realiteit is dat baie Christene hulle lewe as betekenisloos ervaar.

Kinders verlaat die nes, en skielik is daar ‘n betekenisloosheid; ‘n eggenoot val weg, en skielik verloor die lewe sin. Natúúrlik mag jy treur! Maar, as jou betekenisvolheid afhang van mense, dan gaan jy weldra met betekenisloosheid gekonfronteer word; want daar kom ‘n tyd wanneer ook jy alleen – sonder mense om jou – is! Wat dan?

Die enigste bron van ‘n betekenisvolle lewe is om te ontdek dat jy hartstogtelik liefgehê word deur God! Hartstogtelik! Die Engelse woord – passionately – kom van ‘n Griekse woord wat beteken “om te ly”. Dit is nie jy wat so hartstogtelik liefhet dat dit seermaak nie; dit is God!

Ons kan nooit oor liefde praat; om die waarheid te sê, ons weet nie eers wat liefde is, as ons nie eerste oor die liefde praat wat God vir ons het nie! “God is liefde” (1 Joh 4:11a). Enige ander persepsie oor God is vals, want die laaste woord oor God is finaal – dit is ons geloofsbelydenis: God het ons lief. Hartstogtelik lief. Eers dan vervolg Johannes: “En wie in die liefde bly, bly in God, en God bly in hom” (11b).

St. Teresa van Avilla (16de eeu) het geskryf: “Dit is slegs liefde wat waarde gee aan alle dinge.” Liefde het ‘n beginpunt: dit begin by God.

Wil jy vreesloos liefhê? Self kan jy nie. So eenvoudig soos dit. Nie as jy dit nog nooit self ervaar het nie. Nie as jy God se liefde nog nooit leer ken het nie. Nie as jy nie deur God se liefde oorweldig word nie. Tot dan sal jy nooit kan nie.

 GEBED:  Ek het U lief, o Here, verdiep my liefde!

KUNS:  Peter Clarke; Lente Landskap, Tesselaarsdal, Caledon 

MUSIEK:

Ons kyk vandag na die liriekvideo van “The Love of God” deur The N Crew. Die liriek verskyn op die video. Die liriek en musiek is deur Frederick Martin Lehman.