14-15 VREESLOOS VERNUWEND

Net om nog by gister (#13) aan te sluit en weer oor vryheid te gesels, luister net wat skryf Paulus in Gal 5:13: “Julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as ‘n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde.”  Dit is ‘n belangrike geloofsbeginsel wat ons moet begryp:  ons is nie vry van … nie; ons is vry om …

Ons is vry om anders te kan kies. Presies wat Paulus ook hier skryf: ons vryheid is bedoel om gebruik te word om mekaar in liefde te dien. Op dieselfde wyse waarop Christus sy dissipels liefgehad het, kan ons begin leer om mekaar lief te hê (aldus Joh 13:34). ‘n Refrein van ‘n Afrikaanse lied kom skielik by my op: “Geen pretensie … geen beheer.” Ware liefde lyk soos 1 Korintiërs 13 dit beskryf: geduldig, vriendelik; nie jaloers nie; nie egosentries nie; nie opvlieënd of liggeraak nie. Liefde leer ons om te vergewe.

Daar is geen groter vryheid denkbaar as die mens wat met die vryheid van liefde leef nie.

Dadelik herroep ek ‘n pasafgelope insident: terwyl ons in die tuin sit, loop ‘n man by ons verby; fiets langs hom. Waarom ry hy nie op sy fiets nie? vra my pa. Die ketting is stukkend. Maar, kom ek help jou, sê pa. ‘n Gas kuier by ons. Hy is dadelik op sy perdjie. Die man gaan net ‘n oorlas van hom maak, kla hy. ‘n Ruk later sluit my pa weer by ons aan. Steeds raas my pa se gas: Môre, oormôre kom pla die man jou weer. Dan help ek hom weer, as ek kan.

Johannes skryf: “God is liefde, wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom” (1 Joh 4:15).  Dit wat in jou hart is, oorheers jou lewe. Inderdaad is dit waar.

GEBED: U maak dit vir my moontlik om te word wie en wat ek moet wees. Dankie daarvoor.

KUNS: Weiden in Spring, Christian Rohlfs

MUSIEK: 

Vir die naweek kyk ons na die pragtige duet van Lauren Daigle en Loren Allred met “Thank God I Do” en “You Say” as deel van AGT 2024.