#13 VREESLOOS VERNUWEND

Êrens het ek gelees dat iemand skryf, “Christenskap lê nie beslag op jou lewe nie. Christenskap bring bevryding.” Ek wonder baie hieroor. Sonder twyfel weet ek dat ons geloof bevryding bring. Dit is wat die Bybel ons leer: “Christus het ons vrygemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder ‘n slawejuk laat indwing nie” (Gal 5:1). Of, soos die 2020-vertaling sê: “Vryheid is waarvoor Christus ons bevry het!  Staan dan vas, en laat julle nie weer onder ‘n juk van slawerny indwing nie!” 

Aldus Paulus is daar net twee soorte lewens: die lewe wat in vryheid geleef word; of die lewe wat in boeie geleef word. Of anders gestel: die lewe van verlossing, of die lewe van sonde. Dit is wat “in Christus” beteken: óf jy is ‘n nuwe mens, óf jy bly ‘n ou mens. Óf jou ego regeer jou lewe, óf die Heilige Gees neem beheer. 

 En dit is net hier waar ek dink die persoon wat gesê het dat ons geloof “nie beslag op ons lewe lê nie” ‘n denkfout maak. Om beslag te lê op iets, beteken om onder nuwe bestuur te wees; of letterlik, om onder ‘n nuwe hand te lê.  Soos Kol 1:13  leer: “Hy (God) het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet.” Net die lewe geleef onder die hand van Christus kan werklike vryheid beleef. En hoe sou dit wees? Vir die eerste maal sal jy kan kies om lief te hê wie God liefhet. Vir die eerste maal sal jy kan wees hoe God menswees werklik bedoel het om te wees. Tot dan sal jy siende-blind deur die lewe gaan; horende-doof.

Dankie tog dat Christus op ons beslag lê!

GEBED: Dankie dat U hand op my rus!

KUNS:  Dawn of Spring, Werner Drewes, 1899

MUSIEK:

Ons kyk na die musiekvideo van  Rebecca St. James  se lied “Dawn” saam met haar broer Luke Smallbone.

Sy skryf: “Dit was so spesiaal om Dawn saam met my broer Luke te skryf en dit dan saam met hom op te voer! Ek hoop die woorde van hierdie lied bedien jou hart. In seisoene van pyn en die onbekende kan ons God se getrouheid aan ons onthou, dat Hy vir ons Dagbreek na die nag bring. Hy is goed!!”