Lydenstyd is woestyntyd. Met ‘n tong wat aan jou verhemelte klou, jou oë skrefies getrek teen die verblindende son, so behoort hierdie reis vir ons te wees: hoe langer die dae raak, hoe groter raak die smagting na vernuwing. Die begeerte na ‘n “Renovaré-lewe” is groter as die suigkrag van ou begeertes en ou gewoontes!
In die Bybel word die begrip “dors” gereeld gebruik as ‘n uitdrukking wat ons verlange na God verbeeld. Net voordat Jesus sy laaste asem aan die kruis uitblaas, “met die wete dat alles klaar volbring is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: ‘Ek is dors’” (Joh 19:28). Die woorde wat Jesus aanhaal, kom uit een van die sg. Lydingspsalms: Psalm 63.
Die Boodskap-vertaling begin só: “God, red my! Ek is in groot moeilikheid. My probleme word net al hoe groter” (v2). Dawid skryf: “Ek het my moeg geroep om hulp, my keel is hees geroep, selfs my oë het ingegee soos ek vir my God gewag het” (v4).
Oor-en-oor lees ek dit. Hoe moet ek my hiermee kan versoen as my lewensomstandighede so anders is? Ek is tog veilig. Ek het genoeg. Saans slaap ek rustig. Ja, ek weet hoe vinnig die lewe kan verander… Ek sien daagliks mense – naby en ver – wat in haglike omstandighede moet leef. Maar moet my lewensomstandighede eers omgedraai word, voordat daar by my so ‘n aktiewe verlange na God is?
Dit is dalk juis die afwesigheid van ‘n alles-oorweldigende verlange na God wat ons grootste sug-van-verlange moet word! Ek begin nou soos Dawid pleit: “Moenie dat die stroom (van voorspoed) my meesleur, en die diep water (van selfgesentreerdheid) my insluk nie, en moenie dat die put (van tevredenheid) toegaan bokant my nie” (met apologie aan v16).
Mag God ons seën met ‘n oorweldigende verlange na God self, ongeag ons omstandighede.
GEBED: “Antwoord my, Here, in u wonderlike liefde, verhoor my in u groot barmhartigheid!” (Ps 69:17).
MUSIEK:
, “As water to the thirsty” is ‘n kontemporêre komposisie wat die smagting na God vir elkeen van ons verwoord. Die onbekende komponis het met hierdie lied probeer verwoord wie Jesus vir hom is: “He’s like beauty to the eyes, strength that follows weakness, truth instead of lies, calm in place of clamour, peace that follows pain, meeting after parting, sunshine after rain, sleep that follows fever, gold instead of grey, freedom after bondage, sunrise to the day. He’s songtime, springtime, summertime, moonlight, starlight, sunlight, home to the traveller.”
Mag dit ons elkeen se versugting vandag verwoord.
Die lirieke verskyn in die video