Ons trap so maklik in die strik om genade “verkeerd om” te verstaan asof óns iets moet doen, dán sal God ons genadig wees. Maar, genade werk presies anders om: dit is God wat genadig is, en dáárom wil ons iets doen. Genade word altyd ontvang! ‘n Goeie voorbeeld is die woorde van Jesus in Johannes 6:44: “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie na My toe trek nie; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan.”
Onlangs het ek na ‘n video van ‘n klomp wees-olifantjies gekyk. Bedags loop hulle heerlik rond, maar saans is dit ‘n gesukkel om almal terug in hul stalle te kry. Die oplossing is eenvoudig: een of twee van die wagters beweeg met groot melkbottels tussen die olifantjies deur en begin dan drafstap stalle toe; met klein olifantjies wat agterna storm. So het Augustinus juis verduidelik: “’n Mens word aangetrek deur dit wat jou opgewonde maak.” Hoe groter jou honger na God, hoe groter is die aantrekkingskrag. Dit sal tog net die uitgeputtes wees wat op Jesus se uitnodiging wil reageer: “Kom na My toe almal wat moeg en oorlaai is” (Matt 11:28). Ons het immer aansporing nodig, anders sal ons altyd van God wil wegkruip. Maar God wil dit anders hê, en daarom neem God die inisiatief en roep uit: “Mens, waar is jy nie?” (sien Gen 3:9).
Begeer jy ‘n diep verhouding met God? Wees gerus – die begeerte kom van God af. Laat toe dat God jou deur sy Gees na Christus toe trek. Dit vra net ‘n hart vol dankbaarheid en gehoorsaamheid.
GEBED: “Dankie Here, alles is inderdaad U genade!”
MUSIEK:
‘n Bekende gesang, “Lord of mercy and compassion” is ‘n gereelde keuse in Lydenstyd. Hierdie weergawe is uitgevoer deur die Ghanese (Wes-Afrika) tenoor, Moses Torto. Die lirieke verskyn in die video.