11 MAART – RENOVARÉ LYDENSTYD 2025

Ons begin Lydenstyd altyd op die spore van Jesus wat 40 dae in die woestyn deurgebring het, en in die tyd drie maal deur die versoeker verlei is (Lees Matt 4 en Luk 4 meer hieroor). Dit is waar dat hierdie drie versoekinge dieselfde is as waarmee ons ook elke dag verlei kan word. Versoekinge kan met drie woorde beskryf word: hedonisme (liggaamlike genot); egoïsme (selfsug en grootheidswaan), en materialisme (wêreldliefde). Die implikasies van hierdie drie versoekinge is dat dit altyd ten-koste-van iets/iemand is: of jy doen jouself skade aan; of jou medemens/natuur, of God. Ten einde, is dit eintlik altyd ‘n keuse teen God. Soos Dawid moes ontdek: “Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë” (Ps 51:6).

Ons verskoning is maklik, “ag, ek is tog maar net mens” – asof versoekinge nie teëgestaan kan word nie. Tog leer Heb 2:18: “Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word.” In 1 Kor 10:13 lees ons ook: “Geen versoeking wat meer is as wat ‘n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan.” Jakobus stel dit sommer eenvoudig: “Onderwerp julle aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug” (Jak 4:7).

Versoeking het altyd met keuses te make. En daarom loop selfondersoek en vernuwing (of, “renovaré”) altyd hand-aan-hand. Soos selfondersoek en skuldbelydenis ook altyd hand-aan-hand loop. Soos skuldbelydenis en Lydenstyd ook altyd hand-aan-hand loop. En Lydenstyd jou die pad van genade laat loop.

Laat die Heilige Gees toe om vandag en dwarsdeur hierdie Lydenstyd met jou te praat oor daardie dinge wat jou van God af vervreem. So kan vernuwing begin…

GEBED: Laat my “ja” vir U ‘n “nee” vir versoekinge wees, Here.

MUSIEK:

Ons luister vandag na ‘n verwerking van die “Kyrie Eleison” (Here, wees genadig), soos uitgevoer deur die Katedraalkoor van Minsk (in Belarus). Die sopraan is Alice Lapenok.