#10 VREESLOOS VERNUWEND

Bekering is iets anders as berou. Of wag, laat ek dit so stel – bekering sluit sekerlik berou in; maar bekering is veel meer as berou. Bekering beteken bloot om van rigting te verander. So lees ons telkens hoe Jesus vir mense uitgenooi het met “Volg My!” Anders gestel, loop dieselfde pad as wat Jesus geloop het. Eintlik, as ons meer presies wil wees, beteken bekering om ‘n nuwe manier van dink te ontdek, en op grond daarvan ook ‘n nuwe manier van leef in te oefen.  Vir ‘n Christen beteken dit dus om “die denkwyse van Christus” (aldus 1 Kor 2:16, 2020-vertaling) aan te leer.

In 2 Kor 5:17 lees ons: “Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.” Eintlik – as ‘n mens die teks reg wil verstaan, moet jy ‘n “máár…” byvoeg. Dit is waar, die oue is verby, máár nou moet die nuwe net al meer sigbaar word.  Met ander woorde, die gawe van vernuwing is uitgedeel. Die praktyk daarvan is ons verantwoordelikheid.  Beoefen die vernuwing.

Vernuwing is dus ‘n twee-rigting saak. Om Paulus (uit “The Message”) aan the haal: “So here’s what I want you to do, God helping you: Take your everyday, ordinary life – your sleeping, eating, going-to-work, and walking-around life – and place it before God as an offering. … fix your attention on God. You’ll be changed from the inside out” (Rom 12:1-2). Is dit nie vir jou ook ‘n mooi manier hoe hierdie vertaling die twee-rigting transaksie beskryf nie? Lees weer: “So here’s what I want you to do, God helping you…”

Alles begin by God. So verduidelik Paulus dit ook: “…op grond van die groot ontferming van God”; en dan volg die opdrag: “laat God (toe) om julle denke te vernuwe.”

Dit is bekering: om nuut te begin dink, sodat jy anders – vernuwend – kan begin leef.

GEBED: Laat ek leef wat ek reeds is, Here, ‘n nuwe mens.

KUNS:   Skildery deur Ludwich Olivier. Beskikbaar by Droombos, +27 82 333 6479

MUSIEK:

Ons kyk vandag na die liriek-video van die groep The King will come se nuwe lied   “Yet”.