Onlangs het ek ‘n gesprek met ‘n groep retreatgangers gefasiliteer waarin ek die vraag gevra het: noem een preek wat ‘n lewensveranderende invloed in jou lewe gehad het. Sommige kon sommer dadelik begin gesels; ander moes lank nadink. Die antwoord wat my die meeste geraak het, was van ‘n ouer man wat gesê het, sy keuse is nie soseer ‘n enkele preek nie, wel ‘n sinnetjie wat hy die dominee by meer as een geleentheid hoor sê het: “Moenie vergeet om te onthou wie jy is nie – in Christus is jy ‘n nuwe mens.”
Dit kom bykans vanself dat ons onsself aanhoudend aan al ons tekortkominge wil herinner. Ons leef in ‘n kultuur waar dit ook daagliks gebeur. Ons sal net nooit goed genoeg kan wees of aan die regte standaarde voldoen nie. Ons sien dit in die advertensiewese wat ons bombardeer met alles wat ons nie is nie; en alles wat ons nie het nie. Ons is net nooit goed genoeg nie.
As ons dink dat die wêreld se standaard onbereikbaar is, wat nog van God s’n! Soos Helmut Thielicke gesê het: “Daar is in almal van ons se lewens terreine waaraan God nooit sy naam sal kan heg nie en wat ons in die onderste laai van ons lewe wegskuif. Net ‘n lewe wat God volledig met sy eie naam onderteken kan ‘n lewe van ware vrede wees.”
Kan God sy Naam – sy Heilige Naam – onder enige van ons se lewensdokument teken? Die antwoord is eenvoudig: NEE! Niks in ons is heilig genoeg dat ons die heilige Naam van God kan dra nie. Máár, dan roep ons uit: “Die skuldbewys is opgeskeur, dit is aan die kruis vasgespyker (Kol 2:14). Jesus het met sy eie naam – in bloed – borg geteken.
Ek begin dus ook leer dat geloofsvernuwing baie meer met herinner-en-onthou te make het! Nie wat ek moet doen nie, maar wat Jesus gedoen het.
GEBED: U het my nuut gemaak; dankie dat ek nie gebonde is aan my eie oue nie.
KUNS: “The Four Seasons: Spring”, 1893, Léon Frédéric, België.
MUSIEK:
Ons kyk vandag na die liriekvideo van Laurika Rauch se lied “Liewe Lewe” saam met Christi van Niekerk.