“Daar is geen musiek soos God se musiek nie.” Dít is wat die psalms ons wil leer. Sing! Sing! Sing! Die Hebreeuse woord vir psalms is “tehellim.” Ons vertaal dit met “lofprysing”: liedere gerig aan God, oor God, en tot God. “Aanbidding met begeleiding” – dit is weer wat die Griekse woord “mizmor” beteken. (Dit is waarvan ons woord “psalms” afgelei word.) Destyds het die koning sy siter uitgehaal en sy gebede tot God gesing. Of die koor (Koragiete) het by die tempel gesing. Mettertyd het die gelowiges dit ook op hul pelgrimsreise gesing wanneer hulle gevare moes trotseer.
Ons het almal al om ‘n kampvuur gesit waar iemand skielik ‘n bekfluitjie uithaal. Aanvanklik is dit vrolike liedjies – iemand trek jou skielik op en net daar begin julle dans. Maar soos die aand langer word en die kole al rooier, raak die praat ook minder, roer die nostalgie van die musiek die dieper emosies in ons binneste. So is die psalms – dit laat wel emosies op waarvan ons soms onbewus was.
Jy kan net lofliedere sing as die Heilige Gees jou lewe beheer. Daarom skryf Paulus: “Laat die Gees julle vervul, en sing onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere; sing met julle hele hart tot eer van die Here. Dank God die Vader altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus Christus” (Ef 5:18b-20). Lofliedere en dankbaarheid is pasmaats. So leer Paulus die Kolosse-gemeente: “Wees altyd dankbaar. … Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing” (Kol 3:15b, 16b).
Die Duitse filosoof, Friedrich Nietzsche, het gesê: “God het vir ons musiek gegee om ons gedagtes na hoër dinge te lei, selfs om ons te laat bewe, maar bowenal om ons opwaarts te lei”. Musiek kan ons vrolik maak, maar selfs die hardste harte breek. Ook het Nietzsche gesê: “Sonder musiek sou die lewe ‘n fout wees.” Ek wil dit anders stel: sonder lofprysing sal ons lewe nooit dieselfde kan wees nie!
Oefen jou stembande! In die nuwe week sing ons saam met die psalmdigter.
GEBED: Vul my met U Gees sodat my lofpsalms voor U eg sal wees.
KUNS: “Koning Dawid in Gebed” deur Pieter de Grebber
MUSIEK:
Ons kyk na die musiekvideo Franco Prinsloo se “Lofpsalm” opgevoer deur Laerskool Gene Louw se Seniorkoor.