BELOFTES #31

“Elke belofte van God is betroubaar; Hy beskerm dié wat by Hom skuil.” In ‘n ander vertaling van Spreuke 30:5 staan daar, “Elke woord van God is getoets. Hy beskerm elkeen wat beskerming by Hom kom soek.” Elke woord wat God gespreek het, kan gesien word as ‘n belofte van God.  Met dit in gedagte wil ek hierdie reeks afsluit met die laaste woorde van Jesus op die laaste bladsy van die Bybel. Net vier woordjies: “Ja, Ek kom gou!” Hierop het Johannes uitgeroep, “Amen! Kom, Here Jesus” (Openbaring 22:20). Paulus het ook uitgeroep: “Marana ta – kom, Here” (1 Kor 16:22). Ons kan saam uitroep: “Amen! Kom, Here.”

Dan eindig beide Johannes en Paulus met dieselfde versekering: totdat Hy kom en ons Hom van aangesig tot aangesig kan sien, weet ons: “Die genade van die Here Jesus sal by julle wees! My liefde is by julle almal in Christus Jesus” (1 Kor 16:23 en ook Openb 22:21).

Natuurlik vra ons, waarom kom Jesus dan nie? Waarom uitstel? Dit is betekenisvol dat Jesus – tot teen die einde – nog die uitnodiging uit Jesaja 53:1-3 rig: “Elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet” (Openb 22:17b). Asof Jesus so lank as moontlik Sy koms uitstel, sodat elke geslag die kans kry om in God se arms rus te kom vind. Genade word so lank as moontlik vir mense aangebied.

Dat Hy sal kom, daaraan hoef ons nie te twyfel nie. Dat ons – tot dan – nie geskei word van die liefde van God nie, ook dit is ‘n belofte. (Rom 8:31-39)

Leef jou lewe voluit. Met vreugde en met danksegging. En met die verwagting: “Marana ta.” As dit nie vandag is nie, dan môre. Reikhalsend kyk ek uit. Tot dan leef ek uit U genade.

GEBED: Kom Here! En dankie vir U immer-teenwoordige liefde.

KUNS:  Akiane Kramarik  se “Vader Vergeef Hulle”

MUSIEK:

Ons kyk na die musiekvideo van “Genadelied”  deur Rina Hugo.