VASTE FONDAMENT 9 Jan (Don.)

Volgens die Joodse gebruik sou Jesus en sy dissipels Psalm 118 op hul reis na Jerusalem gesing het; ook sou hulle dit by die Pasgamaaltyd gesing het. Herhalend sou die refrein van Psalm 118 kom: “Prys die Here, want Hy is goed; ja, vir ewig duur sy troue liefde.” Met Jesus se intog in Jerusalem het die omstanders selfs uit Psalm 118 aangehaal terwyl hulle gesing het. By geleentheid het Jesus die gelykenis vertel van die boer wat ‘n wingerd geplant het, maar die boere van die omgewing was jaloers en het al sy slawe doodgemaak. Selfs die erfgenaam van die boer is doodgemaak! Waarop Jesus uit Psalm 118:22 aanhaal met geen onduidelikheid na wie Hy verwys nie: Homself! (Sien Matt 21:42; Mark 12:10-11 en Luk 20:17). En net daar het die priesterhoofde en die Fariseërs planne begin beraam dat Jesus gevangene geneem moet word, omdat die volk Jesus as ‘n profeet gesien het. Maar Jesus was meer as net ‘n profeet. Jesus was die Messias!

Toe Petrus en Johannes voor die Joodse Raad gebring word, het Petrus ter verdediging ook Psalm 118:22 aangehaal as getuienis dat Jesus die werklike Messias was: “Hý bring die verlossing en niemand anders nie.” (Hand 4:12). Die Joodse Raad was verbaas oor hulle geloof en het hulle toe die opdrag gegee dat hulle nie weer oor Jesus mag praat nie. Waarop Petrus en Johannes vir hulle antwoord: “Julle moet maar self besluit wat voor God reg is: om aan júlle gehoorsaam te wees of aan God. Wat ons betref, dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie” (Hand 4:18-20).

Óf jy glo óf jy glo nie. Maar as jy glo, kán jy nie swyg nie. Jy sal nie wil nie. Dit is onmoontlik.

GEBED: Eeue later glo ek ook, Here, U ís die hoeksteen van my lewe. Dit en alleen dit is my getuienis.

 —–

MUSIEK:

Ons kyk na die musiek video van “How Firm a Foundation” deur  York College A Cappella Chorus.

Die York College A Cappella-koor, wat van 1967 tot 1972 aktief was, was ‘n bekende vokale ensemble van York College in York, Pennsylvania. Onder leiding van Joe Lewis het die koor erkenning gekry vir sy vertonings van heilige en klassieke koorwerke.