Trurat Vorentoe

Lig in die Winter

7 – Trurat Vorentoe (9 Jul)

⁠📖 “Dit sal ek ter harte neem, daarom sal ek bly hoop.” Klaagliedere 3:21

Môre is ‘n geheim. Soms vol opwindende verwagting. Maar soms vol vrees – asof niks goeds ooit weer sal gebeur nie. Jeremia verstaan. Hy skryf hierdie woorde terwyl Jerusalem in puin lê. Daar is geen teken van herstel nie. Geen onmiddellike uitkoms nie. Alles wat eens seker gevoel het, lê in skerwe rondom hom.

Tog sê hy: “Dit sal ek ter harte neem.”

Dit is ‘n merkwaardige sin.

Jeremia ontdek dat hoop nie altyd spontaan opkom nie. Soms is hoop ‘n besluit. Soms moet ons doelbewus onthou wat ons andersins sou vergeet. Ons geheue is daarom deel van ons geloof.

Bybelverhale word oorvertel, omdat ons so maklik vergeet. Israel bou klipstapels om gebeure te onthou; feeste herdenk ou hoogtepunte; ouer geslagte vertel stories aan die jonges – nie omdat hulle in die verlede leef nie, maar omdat herinnering geloof voed. (Lees Josua 4:6-7).

Wanneer hoop swak word, lees Klaagliedere 3:21-23 en vra jouself: “Wat weet ek van God se getrouheid gister en eergister wat my huidige omstandighede nie kan uitwis nie?”

🔌 BYBELSTUDIE
⁠Deuteronomium 8:2–5 en Psalm 103:1–5
⁠Kyk hoe word beide Israel en Dawid aangespoor om in trurat vorentoe te beweeg.

☝🏼Watter waarheid oor God het die lewe jou geleer wat geen moeilike omstandigheid ooit van jou kan wegneem nie?

🙏🏽 Here, wanneer hoop flou word, help my om te onthou. Herinner my aan die vele maniere waarop U my reeds gedra het. Help my om vas te hou aan wat ek van U weet, selfs wanneer ek nie kan sien wat voorlê nie. Amen.