Die onsigbare werk van God

Lig in die Winter

8 – Die onsigbare werk van God (10 Jul)

⁠📖 “Die grond bring vanself die graan voort: eers 'n halm, dan 'n aar, dan die vol koringaar.” Markus 4:28

“Sien is glo.” Ons wil vordering, vooruitgang, sien. Ons wil meet. Ons wil weet iets gebeur. Maar baie van God se belangrikste werk gebeur buite ons sigveld. Lees gerus Prediker 11:3 en ook Joh 3:8.

‘n Saad groei in die donker. Wortels ontwikkel onder die grond. Niemand sien dit nie. Tog gebeur die belangrikste deel van die groei juis daar.

Dieselfde gebeur dikwels in die geloofslewe. Ons sien dalk nie die klein veranderinge nie. Ons merk nie altyd hoe God ons gedagtes, ons prioriteite of ons harte vorm nie. Maar jare later kyk ons terug en ontdek dat ons nie meer dieselfde mens is nie.

God werk dikwels die diepste wanneer Hy die stilste werk.

🔌 BYBELSTUDIE
⁠1 Korintiërs 3:6–7 en Filippense 1:6
⁠God is werklik die enigste Bron, Bestuurder en Voltooier van geestelike groei.

☝🏼Waar in jou lewe verwag jy dalk sigbare resultate, terwyl God besig is met onsigbare groei?

🙏🏽 Here, gee my die geduld om U werk te vertrou, selfs wanneer ek nog nie die vrug daarvan kan sien nie. Amen.