SPIRITUS VIVUS #13 (18 Junie)

Die Gees: hou ons in verwondering

 Hoe dikwels stap ons deur die lewe en mis ons God se teenwoordigheid in die gewone dinge? Ons soek na die buitengewone en die wonderwerke, terwyl die Heilige Gees ons oë wil oopmaak vir die Goddelike skoonheid van alles rondom ons. Prediker 3:11 sê: " _Alles het Hy mooi gemaak op sy tyd; ook het Hy die eeu in hulle hart gelê.._ ." Hierdie "mooi" is nie net vir majestueuse natuurtonele nie, maar sluit die perfeksie en ordelikheid van alles in. Alles wat God gemaak het, is gevul met skoonheid. 
 Alles wat ons dus doen - as beelddraers - moet ook gevul wees met skoonheid: bedagsaamheid; deernis; selfs teregwysing om iemand terug te bring op die “smal weg”. In dit alles is Goddelike skoonheid.  
 Deur die Gees verlig God ons verstand (aldus Efesiërs 1:17-18) sodat ons kan sien wat God sien – Sy handafdruk en die skoonheid van Sy wysheid in die alledaagse. Laat die Gees jou help om jou te verheug in die klein wonderwerke van elke dag.

ANKERGEDAGTE: Die Gees is die lens waardeur ons kyk as ons Goddelike skoonheid om ons wil sien.

Gebed: Heilige Gees, laat ek tog nie blind deur die lewe gaan terwyl U my lewe met skoonheid omring nie.


DEEL B (vir diegene met meer tyd):
Lees Prediker 3:1-11. Neem ‘n oomblik om bewustelik ‘n “gewone” ding vandag raak te sien – dit kan ‘n wolkpatroon, ‘n glimlag, ‘n geluid, of selfs net jou koppie koffie wees. Vra die Heilige Gees om jou te help om God se hand in daardie oomblik raak te sien en jou daaroor te verwonder.
Kruisverwysings vir verdere studie:
Efesiërs 1:17-18: “dat die God van onse Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid, aan julle die Gees van wysheid en openbaring mag gee in die kennis van Hom; verligte oë van julle verstand, sodat julle kan weet wat die hoop van sy roeping is…”
Korintiërs 2:10: “Maar God het dit aan ons geopenbaar deur sy Gees; want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God.”

MUSIEKKEUSE VIR VANDAG:
Hildegard von Bingen (c. 1098–1179) was ‘n merkwaardige Middeleeuse Benediktynse non wat vandag steeds bewonder word vir haar bydraes tot teologie, musiek, medisyne en natuurgeskiedenis.
Sy het verskeie liedere oor die Heilige Gees gekomponeer, waarvan “O ignee Spiritus” (O Vurige Gees) een van die bekendstes is. Hierdie loflied is ‘n pragtige en poëtiese uitdrukking van die Gees se lewegewende krag, sy rol as Trooster en Reiniger, en sy teenwoordigheid wat alle dinge deurdring en lewend maak.