Die Gees: Droefheid se Trooster
As die lewe ons onverwags tref met verlies of hartseer, wonder ons dikwels: Is dit moontlik om steeds staande te bly? Die vorige dagstuk het beklemtoon dat God se Gees ons innerlike mens versterk, maar dit beteken nie dat ons nie sal swaarkry nie. Staande bly te midde van intense trauma gebeur slegs as God die Een raak teen wie se bors jy lê en huil. Jy bly staande omdat God staande is. God hou vas terwyl God jou troos.
Jesus self het belowe: " _Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle 'n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid – die Gees van die waarheid..._ " (Joh 14:16-18). Die Griekse woord vir Trooster, parakletos, beteken letterlik "een wat langs jou geroep is om te help". God moet nie nog Jesus se gebed beantwoord nie, dit is reeds beantwoord! Die Een wat bystand en hoop moet bied, is reeds hier – die Spiritus Vivus. Die Een wat jou vashou. Dit is hoe jy kan staande bly: laat die Trooster toe om die Trooster se werk te doen.
ANKERGEDAGTE: Die Gees laat toe dat ons rou, maar Hy is die bystand wat ons vertroos en ons staande hou, sodat hoop nie verlore gaan nie .
Gebed: Heilige Gees, dankie dat U my Trooster is. Dankie dat U my steunpilaar is. Dankie dat U hier is.
DEEL B (vir diegene met meer tyd):
Lees Johannes 14:16-18 . Druk die lewe jou plat? Hoe kan jy meer bewustelik die “parakletos” in jou lewe toelaat?
Kruisverwysings vir verdere studie:
- 2 Korintiërs 1:3-4 : “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus, die Vader van ontferminge en die God van alle troos, wat ons troos in al ons verdrukking, sodat ons die wat in allerhande verdrukking is, kan troos deur die troos waarmee ons self deur God getroos word.”
- Romeine 8:26 : “En net so kom ook die Gees ons te hulp in ons swakheid, want ons weet nie wat ons behoort te bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike smekinge.”
MUSIEKKEUSE VIR VANDAG:
Ek kies selde kontemporê musiek, omdat dit so vrylik beskikbaar is, terwyl klassieke kerklike koormusiek nie meer algemeen bekend is nie. Maar, hierdie aanbiddingslied pas so goed by die tema, voorts het dit ‘n lieflike kontemplatiewe melodie. Die naam is, “ I Am the Lord Who Heals You ” en is ‘n produk van “City Lights Reflection” – ‘n bediening wat Woordmusiek versprei.

