MEER AS NET ‘N STORIE #16

… Hoop te midde van Chaos

ANKERTEKS: “…As julle die onkruid uittrek, sal julle miskien ook die koring saam uittrek. Laat altwee saam groei tot die oestyd…'” (Matteus 13:29-30)

ANKERGEDAGTE: Die Koninkryk van God groei reeds tussen al die chaos om ons. Dis nie ons taak om die chaos te vernietig nie; dit is ons taak om op groei te konsentreer.

Die Bybel verseker ons dat die Koninkryk van God reeds hier op aarde regeer. Maar, waarom is die “Koninkryk van Chaos” soveel sigbaarder? Dankie tog dat Jesus self antwoord: die rede waarom ons soveel onreg en gebrokenheid sien, is omdat die vyand ook aktief werk.

Maar waarom gryp God nie nou in nie? Omdat God wag. Nie uit traagheid nie, maar uit genade en beskerming. God, as Landbouer, weet dat ons, ook in ons eie lewens, so vervleg is met die “onkruid” van ons wêreld, dat ‘n voortydige oordeel ons ook sal vernietig. God se geduld is dus vir ons genade!

Ons hoop lê nie in die afwesigheid van chaos nie, maar in God se volmaakte teenwoordigheid tussen dit alles. Ons taak is om te fokus op ons innerlike lewe en die vrug van die Gees. Ons moet glo dat God ons deur die onstuimigheid bewaar. Vertrou dat die oesdag kom – en dat die Landbouer presies weet wat Hy doen. Groei en vertrou!

GEBED: Here, leer my om te fokus op U teenwoordigheid selfs al woed die chaos rondom my. Leer my om sterk te groei te midde van al die versoekinge.

TEKSVERSE VIR VERDERE LEES:

Matteus 13:24-30, 36-43

2 Petrus 3:9

Galasiërs 5:22-23

Psalm 37:1-3

Hierdie gedeeltes herinner ons aan God se geduld met die onkruid, die Vrug wat Hy van Sy koring verwag, en hoe ons kalm in Hom kan rus terwyl ons vir die oesdag wag.