… Die illusie van môre
ANKERTEKS: “Maar God sê vir hom: ‘Dwaas! Vannag nog sal jou lewe van jou geëis word.’” (Lukas 12:20)
ANKERGEDAGTE: ’n Siel oorleef nie met voorraad vergader nie, maar van ‘n verhouding met God.
Ek sien dit om my: groter en groter; meer en meer. Alles ter wille van ‘n veilige “môre”. Maar God onderbreek hierdie ryk man. “Dwaas”, sê God. Nie omdat hy ryk was nie, maar omdat hy nie ryk was by God nie – hy het versuim om in die ewige bank te deponeer. Sy siel het geestelik honger gely in ’n skynbare oorskot van versamel.
Jesus se waarskuwing teen hierdie “ryk dwaas” is ‘n waarskuwing teen die illusie dat tydelike beheer oor ons finansies en tyd gelyk is aan ware lewensbeheer. Ons 21ste-eeuse “skure” is vol digitale bates, loopbaanobsessie, en eindelose vermaak. Maar wat gebeur as God vannag die eisbrief stuur? Is ons werklik voorbereid?
‘n Vol skuur, of ‘n vol kalender, is leeg as jou hart nie gevul is met ‘n diep vertroue in God nie. Die storie herinner ons: die lewe is ‘n geleende geskenk, nie ‘n persoonlike eiendom wat bestuur moet word nie.
GEBED: Here, leer my om U wysheid te begeer bo my eie wins.
Tekserwysings vir verdere lees:
Lukas 12:13-21
Prediker 5:10–15
Matteus 6:19–21
1 Timoteus 6:17–19
Jakobus 4:13–15
Aardse rykdom is verganklik en daarom word die noodsaaklikheid van geestelike rykdom voor God beklemtoon.

