… Aan jou vrugte word jy geken
ANKERTEKS: “Laat (die vyeboom) nog hierdie jaar staan; ek sal hom omspit en bemes. Miskien sal hy volgende jaar vrugte dra.” (Lukas 13:8–9)
ANKERGEDAGTE: God se genade gee altyd nog ’n kans – nie sodat ons kan uitstel nie, maar sodat ons kan verander.
Watter waarde het ’n vrugteboom wat geen vrug dra nie – behalwe om vuurmaakhout te word? So ’n boom tap tog net die water en voeding wat ander bome kon gebruik. Dis maklik om die eienaar se frustrasie te verstaan. Maar die tuinier bly hoopvol: “Gee nog net een jaar kans. Ek sal hom omspit en bemes.”
In hierdie verhaal hoor ons tegelyk ’n waarskuwing én ’n belofte. God se genade is onverdiend, maar nie onbegrensd nie. Tyd kan uitloop. Jesus waarsku teen ’n geloof vol leë woorde, sonder groei; ’n lewe wat net om jouself draai en geen sorg vir ander bied nie.
Genade sonder vrug is so dood soos rituele sonder liefde. Ware geloof is nie net om oor God te praat nie, maar om met God te leef – só dat ander deur jou lewe gevoed word.
Daarvoor sal daar altyd genade wees. Vandag ook.
GEBED: U wat die Tuinier van die Lewe is, dankie dat ek deur U genade kan vrug dra tot U eer.
AANVULLENDE TEKSVERSE OM TE LEES:
Lukas 13:6-9
Johannes 15:4–5
Galasiërs 5:22–23
Jakobus 2:17
Psalm 1:3
Ware geloof bly verbind aan Christus, wortel in God se Woord, dra die vrug van die Gees, en wys sigbaar in dade van liefde en gehoorsaamheid.

